Toffie-karamel-speserypoeding

Deegbestandele:

2k (500ml / 240g) koekmeelblom
1k (250ml / 200g) ligbruinsuiker
1t (5ml) bakpoeier
2t (10ml) droë gemmer
1t (5ml) kaneel
½t (2,5ml) gemengde speserye
½t (2,5ml) sout
2 eiers
½k (125ml) sonneblom- of canola-olie
2e (30ml) goue stroop (warmgemaak)
1t (5ml) koeksoda
1k (250ml) kookwater

Metode:

Verhit die oond tot 180°C (350°F) en smeer ‘n 2 liter-grootte oondvaste bak.
Sif die koekmeelblom, suiker, bakpoeier, gemmer, kaneel, gemengde speserye en sout saam.
Los die koeksoda op in die kookwater. Roer die goue stroop by.
Klits die eiers en olie saam.

Sousbestandele:

1/3k (80ml/80g) botter
¼k (60ml) molasse-suiker (treacle sugar)
½k (125ml/100g) ligbruinsuiker
1½k (375ml) volroommelk (Of, vir ‘n ryker sous – 1k volroommelk & ½k room)
1t (5ml) mielieblom (soos bv. Maizena) & ‘n bietjie ekstra melk

Metode:

Smelt die botter en suiker saam oor hoë hitte. Roer tot opgelos met ‘n houtlepel. Moenie ‘n staallepel gebruik nie. Jy kan moontlik jou hande brand, want suikerstrope word baie warm.
Laat verkleur tot karamelkleurig. Wees versigtig om dit nie te ver te laat verkleur nie anders raak dit te bitter.
Roer die melk versigtig, bietjie-vir-bietjie by. Dit kook soms op van die hitte. Hou aan roer tot die karamel opgelos het.
Maak ‘n pasta met die mielieblom en ‘n bietjie melk. Ongeveer 15ml behoort genoeg te wees. Roer dit by die karamel-en-melkmengsel in. Laat dit vir ‘n minuut of twee kook tot effens verdik. Skink uit in oondbak en hou warm.

Finale stappe:

Meng die eiermengsel en kookwatermengsel om die beurt by die droë bestandele. Keer uit in sous in oondbak.
Bak onmiddellik tot gaar, uitgepof en goudbruin. My oond kan nie met elektriese oonde vergelyk word nie. Ek raai dit behoort 35 tot 45 minute in ‘n elektriese oond te neem.

Bedien met vanieljeroomys, of as jy nie so ‘n sterk soettand het nie, met dik room of geklopte room.

Tuisgemaakte Chai Rooibostee
(Spesery Rooibostee)
Vir 4 koppies

Bestandele:

2 sakkies rooibostee
3 naeltjies
1 stuk pypkaneel
1 steranys
3 swartpeperkorrels
reep nartjieskil
3 kardemomsade, uitgedop
1 liter water

Metode:

Bring tot kookpunt in ‘n vlekvrye staal teepot (of souspotjie) en prut saam vir 10 minute.
Bedien met melk of room en ligbruinsuiker of molassesuiker (treacle sugar).

Rooibos Ystee met Suurlemoen en Kruisement
(Bedien 5. Kan met gemak vermeerder word.)

Bestandele:

2e (30ml/3 teesakkies) rooibosteeblare
4¹⁄₃k (1 liter & 80ml/1080ml) kookwater
½k & 2e (150ml/120g) ligbruinsuiker
1 suurlemoen se sap (of na smaak)
½ suurlemoen in dun skyfies gesny, vir garnering
6 tot 9 (ongeveer) kruisementblare, vir garnering sowel as geur

Metode:

Giet kookwater oor rooiteeblare in ‘n pot en laat 10 minute lank prut om antioksidante vry te stel.
Verwyder die teesakkies (of syg deur ‘n siffie, indien los rooibosteeblare gebruik is) en roer die suiker by tot opgelos.
Laat afkoel en roer die suurlemoensap (na smaak) by.
Gooi oor in ‘n geskikte houer vir die yskas en voeg 3 of 4 kruisementblare by om die ystee liggies mee te geur.
Bedien yskoud met ys, suurlemoenskyfies en nog kruisementblare vir garnering.

Ek voorspel dat dit so ‘n gunsteling gaan word, dat jy die resep die volgende keer sommer met 5 keer die hoeveelhede gaan maak.Toffie-Karamel-Speserypoeding