Roosjellie met Egte Vanieljevla
(4 klein porsies – resep kan verdubbel word)

Vir die Roosjellie:

Bestandele:

½ koppie (125ml / 100g) suiker*
1½ e. (22,5ml) gelatien
1t (5ml) roosekstrak
‘n paar druppels pienk koskleursel (opsioneel)
1k (250ml) kookwater
1k (250ml) koue water

Metode:

Meng die suiker, gelatien, roosekstrak en koskleursel (indien gebruik) direk in jou opdienbak (indien dit hitte-bestand is).
Laat jou ketel kook en roer, onmiddellik na kookpunt bereik is, die kookwater by die suikermengsel in. Hou aan roer totdat al die gelatien opgelos is. (Teen daardie tyd sal die suiker ook opgelos wees.)
Roer jou koue water (of selfs yswater) by die jellie in. As dit koud genoeg is om reeds yskas toe te gaan, plaas in jou yskas om te stol.

*Witsuiker maak die mooiste eindproduk, maar ligbruinsuiker het minder chemiese byvoegings, soos chloorgas.

Vir die Vanieljevla:

Bestandele 1:

1e. (15ml) mielieblom (soos bv. Maizena)
1k (250ml) volroommelk
+ nog ‘n bietjie ekstra melk om ‘n mielieblompasta te maak

Metode 1:

Bring die melk tot kookpunt (op stoof in boonste potjie van jou dubbelkoker of andersins in ‘n pyrex-bakkie ((wat vir ‘n latere stap bo-op ‘n pot kan pas)) in jou mikrogolfoond)
Meng intussen jou mielieblom met ‘n eetlepel of twee melk om ‘n pasta te vorm. Wanneer jou melk opkook, roer die mielieblompasta by.
Roer met ‘n draadklopper vir ‘n minuut of twee tot gaar. Haal van stoof af.

Bestandele 2:

2 eiergele*
2e. – 3e. (30ml – 45ml) suiker (hangende af van smaak)
½t (5ml) vanielje-ekstrak (ekstrak vanaf egte vanielje)
of 1t (5ml) vanieljegeursel (sintetiese produk)

Metode 2:

Klits die eiergele en suiker met ‘n elektriese klitser tot liggeel.
Klits nou jou kokende melkmengsel daarby in.
Gooi die hele mengsel terug in die boonste potjie van jou dubbelkoker (of in die pyrexbak, wat oor ‘n pot pas), skink ongeveer ‘n cm water in die onderste pot en sit dit terug op die stoof.
Roer die mengsel gedurig met jou draadklopper, totdat dit gaar is en verdik het. Om te toets of dit gaar is, gebruik jou reuksin (oppas vir die stoom!) en, as jy onseker is, gooi ‘n bietjie vla oor die agterkant van ‘n lepel. As jy met jou vinger ‘n streep daardeur trek en die streep bly daar, is dit gaar.
Haal onmiddellik die vlapot van die waterpot af. Anders kan dit skif. Vla moenie te warm word nie. Dit sal die tekstuur vernietig.
Roer die vanielje by die vla in. Om seker te maak dat jou vla nie nou skif nie, maak die waterpot halfpad vol met koue water, plaas dit in jou wasbak en sit jou vlapot daarop.
Laat afkoel. Om te keer dat jou vla ‘n velletjie bo-op vorm, kan jy ‘n blokkie botter bo-op vryf, of jy kan ‘n baie dun lagie suiker daarop strooi. Gebruik dan net minder suiker in die resep.

*As jy die resep verdubbel, het jy 4 eierwitte oor, wat perfek is vir enige meringue-resep of andersins het jy ‘n uitstekende byvoeging vir enige hoë proteïn-dieet.