Romerige Hoender, Sampioen, Prei & WitwynSop
(Maak 4 tot 5 liter)

Bestandele:

Fase 1:
1 heel hoender – verkieslik vrylopend, dus ongeveer 1,5kg groot
2e/30ml botter
2e/30ml olyfolie
1 groot bruinui, gekap
1 bondel preie, in ringe gesny
1 bondel sopseldery, fyn gekap
5 huisies knoffel, fyn gekap
3 rape, in 1cm blokkies gesny
3 groot wortels, geskil, in die lengte gehalveer en in ringetjies gesny
4 groot aartappels, geskil en in 1cm blokkies gesny
½ bondel pietersielie, fyn gekap (of 2 styfgepakte houertjies)
20 origanumblaartjies
20 salieblare, fyn gekap
2 lang repe suurlemoenskil
sout & swartpeper (na smaak)
1t/5ml paprika
2 hoendergeurblokkies, gekrummel
of
2e/30ml Ina Paarman’s hoenderaftrekselgeurpoeier
of
egte hoenderaftreksel, vooraf verhit, genoeg om bestandele in pot mee te bedek
kookwater om alles mee te bedek

Fase 2:
1 pak wit knopiesampioene –
1 pak portabellini sampioene –
1 pak groot bruinsampioene –
– met kombuispapier skoongevee en vertikaal in skyfies gesny
⅛-¼k/30-60ml/30-60g botter (hangende af van absorbsie van sampioene)
⅛-¼k/30-60ml olyfolie (hangende af van absorbsie van sampioene)
sout & swartpeper (na smaak)
3 knoffelhuisies, fyn gekap
300ml – 400ml droë witwyn (na smaak)

Fase 3:
1k/250ml skulpnoedels
3k/750ml room of 2k/500ml room en 2k/500ml volroommelk

Metode:

Fase 1:
In ‘n 6liter kapasiteit swaarboomdrukkoker, braai die uie, preie, knoffel en wortels vir ‘n paar minute.
Skraap die uiemengsel eenkant toe in die pot en voeg die heel hoender by en braai tot verbruin rondom. (Maak seker dat jou uiemengsel nie nou verbrand nie. Alles moet net karamaliseer. As dit lyk of die uiemengsel te veel hitte begin kry, roer reeds die raapblokkies daarby in. Dit sal die algemene temperatuur van die kos afbring en sommer die rape ook meer geur gee. Karamalisering is ‘n uiters belangrike stap in enige kosmaakproses. Dit is wat jou kos geur gee.)
Wanneer jou hoender kleur het, voeg die sout, swartpeper, paprika, aartappels, (rape, indien nog nie bygevoeg nie), seldery, pietersielie, origanum, salie en suurlemoen by. Roer deur. (Indien jy nie sopseldery in die hande kon kry nie, maar eerder tafelseldery – braai die staafringetjies reeds saam met die uiemengsel. Voeg dan net die fyngekapte blaartjies met hierdie stap by.)
Bedek nou alles met kookwater en roer die hoendergeurblokkies of -poeier by. Gebruik minstens 2l tot 3l water. Anders gaan die bestandele droog kook. Hou in gedagte dat jy sop, nie bredie nie, maak. (As jy egte, tuisgemaakte hoenderaftreksel het, verhit dit eers en gooi oor die hoender en groente in die pot. As dit nie genoeg is om alles mee te bedek nie – vul dit aan met kookwater.)
Maak drukkoker toe, bring tot kookpunt en laat kook vir 1 uur.
Laat effens afkoel. Tel hoender uit sop uit. Haal die hoendervleis van die bene af en skeur en in stukkies. Maak groentemengsel gedeeltelik fyn met ‘n staafmenger, direk in die pot. Los ‘n kwart tot ‘n 3de van die groente in stukkies.

Fase 2:
Verhit ‘n groot pan of wok tot warm, maar nie rokend nie. Braai dan die sampioene in die kleiner hoeveelheid olyfolie en botter totdat dit karamaliseer. (Probeer verhoed dat dit in hul eie vloeistof begin stowe. Hou die hitte hoog. Begin met die kleiner hoeveelheid olyfolie en botter. Voeg slegs ekstra by, indien die sampioene te veel absorbeer en begin vassit.)
Voeg die knoffel naby aan die einde van die braaityd by en geur met die sout en swartpeper.
Voeg die helfte van die witwyn by en laat dit teen ‘n laer hitte indamp. (Wees versigtig met die ingooi van die wyn. Dit sal sterk stoom, aangesien die pan op dié stadium baie warm sal wees.)
Voeg die ander helfte van die witwyn by die groente in die soppot.

Fase 3:
Voeg die gevlokte hoender en sampioene by die mengsel in die soppot. Vul aan met kookwater, indien nodig. Bring tot kookpunt.
Wanneer die sop kookpunt bereik, voeg die skulpnoedels by en kook vinnig vir 15 minute.
Roer die room of room-en-melkmengsel by. Laat opkook en pas die geur aan met verdere sout en swartpeper, indien nodig.
Bedien met korserige brood.

Indien jy nie ‘n drukkoker besit nie, kan jy ‘n gewone pot gebruik, maar dan die kooktyd verleng tot ongeveer 2½-3 ure.
‘n Ander opsie is om die bestandele te karamaliseer, soos beskryf in Fase 1, dit dan oor te skep in ‘n prutpot, die vloeistof by te voeg en 8-12 ure lank te laat prut. Gaan dan voort met die res van die resep, soos beskryf.

Terloops, Fase 2 kan maklik uitgebrei word om geroomde sampioene op roosterbrood of sampioensous vir hoenderstukke of steak te maak: Voeg dan net ‘n teelepel paprika by & na die indamping van die wyn, ‘n halwe koppie room, wat jy laat inkook tot die dikte waarvan jy hou. Vir ‘n sampioensous, voeg jy net meer room by – bv. een koppie.