1) Basaarpannekoek (laktosevry)

Bestandele:

2k (500ml/240g) koekmeelblom (verkieslik ongebleik & klipgemaal, soos van Eureka Mills)
2 eiers (groot)
½t (2,5ml/knippie) sout (verkieslik onverwerkte seesout)
2k (500ml/500g) water
1e (15ml) canola olie
ekstra canola olie vir bakdoeleindes

Metode:

Klits die water, olie en eiers saam met ‘n elektriese handklitser.
Klits die meel en sout bietjie-vir-bietjie daarby in. Klits tot glad.
Laat die deeg vir minstens 15 minute staan om gluten te ontwikkel.
Verhit ‘n mediumgrootte pan tot redelik warm. Gooi net genoeg olie in die pan om die bodem mee te ‘smeer’.
Gooi ‘n soplepelvol deeg in die warm pan, terwyl jy die pan met jou pols ‘rol’ sodat ‘n dun lagie deeg die hele panbodem bedek.
Plaas die pan terug op die plaat. Wag totdat die deeg bo-op gestol is en die pannekoek effens om die kante begin opkrul.
Keer nou die pannekoek met ‘n eierspaan om (of gooi dit spoggerig in die lug, sodat dit in die lug omdraai – mans hou veral daarvan om dit so te doen ;-)) en bak die ander kant van die pannekoek kortliks tot liggies bruin.
Gaan so voort tot al die deeg op is. Stapel op een bord op, soos jy bak en gooi toe met ‘n skoon vadoek. So bly dit redelik warm totdat dit geëet word. Dien verkieslik dadelik op. Andersins kan dit reeds met kaneelsuiker bestrooi word, opgerol word en in ‘n houer gepak word om vervoer te word.

Maak ‘n dubbele resep vir ‘n honger gesin, veral as dit as ‘n ete gemaak word. Jy kan een of twee met ‘n soutvulsel bedien en ‘n ander met kaneelsuiker of ‘n ander soetvulsel.

2) Standaard Pannekoek

Bestandele:

2k (500ml/240g) koekmeelblom (verkieslik ongebleik & klipgemaal, soos van Eureka Mills)
½t (2,5ml) bakpoeier
½t (2,5ml/knippie) sout
2k (500ml) melk
2 eiers (groot)

Metode:

Meng die droë bestandele (meel, bakpoeier & sout) saam.
Klits die eiers en melk saam.
Klits die melk-en-eiermengsel bietjie-vir-bietjie by die meelmengsel in. Klits tot glad.
Laat die mengsel oornag staan, of minstens ‘n paar ure.
Verhit ‘n mediumgrootte pan tot redelik warm. Gooi net genoeg olie in die pan om die bodem mee te ‘smeer’.
Gooi ‘n soplepelvol deeg in die warm pan, terwyl jy die pan met jou pols ‘rol’ sodat ‘n dun lagie deeg die hele panbodem bedek.
Plaas die pan terug op die plaat. Wag totdat die deeg bo-op gestol is en die pannekoek effens om die kante begin opkrul.
Keer nou die pannekoek met ‘n eierspaan om (of gooi dit spoggerig in die lug, sodat dit in die lug omdraai – mans hou veral daarvan om dit so te doen ;-)) en bak die ander kant van die pannekoek kortliks tot liggies bruin.
Gaan so voort tot al die deeg op is. Stapel op een bord op, soos jy bak en gooi toe met ‘n skoon vadoek. So bly dit redelik warm totdat dit geëet word. Dien verkieslik dadelik op. Andersins kan dit reeds met kaneelsuiker bestrooi word, opgerol word en in ‘n houer gepak word om vervoer te word.

Maak ‘n dubbele resep vir ‘n honger gesin, veral as dit as ‘n ete gemaak word. Jy kan een of twee met ‘n soutvulsel bedien en ‘n ander met kaneelsuiker of ‘n ander soetvulsel.

Vulsels vir opdiening:

1) Tradisioneel

Bestandele:

kaneelsuiker – meng
1k (250ml/200g) ligbruinsuiker met
1e (15ml) fyn kaneel
halwe, vars suurlemoen (opsioneel)

Strooi ‘n dun lagie kaneelsuiker oor die pannekoek. Druk ‘n paar druppels vars suurlemoensap daarop uit; rol die pannekoek op en geniet.

2) Broccoli, kaassous & hoenderrepies

Bestandele:

½ kop broccoli in kleiner stukkies gebreek
Kaassous:
2e (30ml/30g) botter
2e (30ml/24g) koekmeelblom
1k (250ml) melk
½t (2,5ml) sout
¼t (1,2ml) gerasperde neutmuskaat
½k (125ml) gerasperde cheddarkaas
Hoenderrepies:
2 medium hoenderborsies, gesnipper
1e (15ml) olyfolie
1 knoffelhuisie
sout & varsgemaalde swartpeper
‘n paar druppels vars suurlemoensap

Metode:

Kook die Broccoli in soutwater tot net-net gaar – nie pap nie.
Maak die Kaassous as volg:
Smelt die botter in ‘n potjie oor medium hitte. Roer die koekmeelblom met ‘n houtlepel daarby in. Roer totdat die styselkorreltjies gebars het en dit baie effens neuterig ruik.
Roer die melk bietjie-vir-bietjie daarby in. Wag elke keer totdat die melk heeltemal opgeneem is en die sous glad is, voordat jy die volgende bietjie byroer. Laat nog een of twee minute kook.
Geur met sout en neutmuskaat. Roer die kaas daarby in en HAAL VAN DIE HITTE AF. Die proteïne in kaas vorm klipharde korreltjies, wanneer dit kook. Dit is baie onaangenaam in ‘n sous. Roer tot gesmelt.
Braai die Hoenderrepies as volg:
Verhit ‘n pan tot redelik warm. Gooi die olyfolie in en ‘smeer’ die pan daarmee met jou eierspaan. Gooi nou die hoenderrepies daarby in. MOENIE DADELIK ROER NIE – dit gaan water trek. Wag totdat dit lyk of die meeste van die hoender tot bo ondeursigtig geraak het. Die repies sal intussen aan die onderkant karamaliseer & verbruin.
Geur solank die hoender met sout en swartpeper. Roer nou die hoenderrepies sodat dit rondom kan gaar word. Wanneer dit gaar lyk, roer die knoffel daarby in. Drup ‘n paar druppels suurlemoensap daaroor en roer dit deur.
Meng nou die kaassous, broccoli en hoenderrepies saam en bedien dit saam met jou pannekoek as ‘n soutvulsel. (Dit kan ook as ‘n sous vir pasta gebruik word.)

3) Crépe Suzette-sous

Bestandele:

6e (90ml/90g) botter
fyn gerasperde skil van 2 lemoene
fyn gerasperde skil van 2 suurlemoene
sap van 4 lemoene
¼k (60ml/50g) ligbruinsuiker
½k (125ml) lemoengeur likeur (soos bv. Van der Hamlikeur)
en/of
¼k (60ml) brandewyn
dik room / geklopte room / roomys om mee te bedien

Metode:

Smelt die botter in ‘n groot pan. Roer die lemoen- en suurlemoenskil by, asook die lemoensap. Laat dit oor medium tot lae hitte prut totdat die sous met ‘n derde verminder het.
Voeg die suiker by en roer tot opgelos. Roer ook die likeur by en laat deurwarm word. Haal van hitte af.
Doop 16 pannekoeke in sous, vou in kwarte en pak in sirkel binne-in die sous in die pan.
Versprei die brandewyn oor die pannekoeke in die pan. Steek dit versigtig aan. Wag totdat al die alkohol weggebrand het en bedien onmiddellik met dik of geklopte room of roomys.

Nog soetvulsel moontlikhede:

  • Heuning en botter sous.
  • Piesangs gebraai in botter en ligbruinsuiker, bedien met room.
  • Tertappels, gestowe met botter, pypkaneel, ligbruinsuiker & ‘n paar druppels vars suurlemoensap, bedien met room.

Nog soutvulsel moontlikhede:

  • Kerriemaalvleis.
  • Bolognaise & Parmesaankaas.