Pampoenkoek
(Lewer een ringkoek)

Bestandele:

3 ekstragroot eiers
1½k (375ml/300g) ligbruinsuiker
1k (250ml) canola olie
1k (250ml) fyn, gaar pampoenmoes (gebruik botterskorsie)
2½k (625ml/300g) koekmeelblom (Eureka Mills se Klipgemaalde, Ongebleikte Koekmeelblom)
½e (7ml) bakpoeier
1t (5ml) koeksoda
½e (7ml) fyn kaneel
½e (5ml) fyn, droë gemmer
1t (5ml) seesout (onverwerk – Nature’s Choice)

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. (Voorverhit na 160°C as ‘Thermofan’-oond gebruik.) Smeer of spuit ‘n ringkoekpan.
Klits die eiers teen ‘n hoë spoed en voeg die suiker bietjies-bietjies by terwyl aanhoudend geklits word.
Klits die olie ook in ‘n stroompie in. Roer die pampoenmoes by.
Sif die meel, bakpoeier, koeksoda, kaneel, gemmer en sout saam en klits teen mediumspoed by die eiermengsel in tot net gemeng.
Giet die beslag in die voorbereide ringpan en bak 60 – 70 minute lank tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
Laat die koek in die pan afkoel. Keer dan uit op ‘n draadrak.
Versier koek met roomkaasversiersel.

Roomkaasversiersel

Bestandele:

165g roomkaas
¼k (60g) ongesoute botter
2k (280g) versiersuiker, gesif
1t (5ml) vars suurlemoensap
1e (15ml) gerasperde lemoenskil
‘n paar lemoenskilkrulle en/of geroosterde pampoensade vir versiering (opsioneel)

Metode:

Klop roomkaas en botter saam tot romerig.
Voeg versiersuiker en suurlemoensap by en klits tot romerig.
Indien te styf, voeg ‘n bietjie lemoensap by, indien te loperig, voeg nog versiersuiker by.
Versier die koek en strooi lemoenskilkrulle of pampoensade of pampoensaad-pralineskerwe bo-oor, indien verkies.

Pampoensaad-praline (vir versieringsdoeleindes)

Bestandele:

50g pampoensade
200g ligbruinsuiker
100ml water
1e (15ml) botter

Metode:

Rooster die pampoensade oor matige hitte in ‘n pan. Roer tot neuterig ruik. Plaas eenkant.
Plaas suiker en water in ‘n souspotjie. Verhit en roer sodat suiker kan oplos. Bring tot kookpunt, sodra suiker opgelos is. MOET NIE VERDER ROER NIE.
Laat kook tot karamelkleurig (kraakstadium).
Voeg die pampoensade by en giet vinnig in ‘n dun lagie in ‘n bottergesmeerde bakplaat. Laat afkoel. (Alternatiewelik – strooi die geroosterde pampoensade op die gesmeerde bakplaat en bedek met die gekaramaliseerde stroop.)
Breek in skerwe en versier die koek daarmee.

Pampoenkoek (Koringvrye weergawe)

Bestandele:

3 ekstragroot eiers
1½k (375ml/300g) ligbruinsuiker
1k (250ml) canola olie
1 k (250ml) fyn, gaar pampoenmoes (gebruik botterskorsie)
1k (250ml) glutenvrye koekmeel (Nature’s Choice)
½k (125ml) mielieblom/aartappelmeel
½k (125ml) kekerertjiemeel (‘chick pea’ of ‘chana flour’)
½k (125ml) rogmeel (Eureka Mills)
1t (5ml) ‘guar gum’ (Nature’s Choice)
½e (7,5ml) bakpoeier
1t (5ml) koeksoda
½e (7,5ml) fyn kaneel
1t (5ml) fyn, droë gemmer
1t (5ml) seesout (onverwerk – Nature’s Choice)

Metode:

Voorverhit die oond tot 180°C. (Voorverhit na 160°C as ‘Thermofan’-oond gebruik.) Smeer of spuit ‘n ringkoekpan.
Klits die eiers teen ‘n hoë spoed en voeg die suiker bietjies-bietjies by terwyl aanhoudend geklits word.
Klits die olie ook in ‘n stroompie in. Roer die pampoenmoes by.
Sif die onderskeie mele, ‘guar gum’, bakpoeier, koeksoda, kaneel, gemmer en sout saam en klits teen mediumspoed by die eiermengsel in tot net gemeng.
Giet die beslag in die voorbereide ringpan en bak 60 – 70 minute lank tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
Laat die koek in die pan afkoel. Keer dan uit op ‘n draadrak.
Versier koek met roomkaasversiersel.

Pampoenpoffers met Karamelsous

Poffers:

Bestandele:

3k (750 ml) pampoenmoes, afgekoel (gebruik botterskorsie (butternut))
2 groot eiers
1t (5ml) sout
2 k (500ml/240g) koekmeelblom (verkieslik Eureka Mills se Ongebleikte Klipgemaalde Koekmeelblom
1t (5ml) koeksoda
2t (10ml) kremetart
1e (15 ml) bakpoeier

Metode:

Klits pampoenmoes en eiers saam.
Sif meel, koeksoda, kremetart, bakpoeier en sout saam.
Klop by pampoenmengsel in.
Skep opgehoopte teelepelsvol (of eetlepelsvol) in warm olie en diepbraai tot goudbruin en gaar.

Stroop:

Bestandele:

2k (500ml/400g) ligbruinsuiker
1k (250ml) water
½k (125ml) melk
2e (30ml) botter
½t (2,5ml/knippie) seesout (onverwerk – Nature’s Choice)
2t (10 ml) mielieblom

Metode:

Smelt suiker netso oor hoë hitte in ‘n souspotjie tot gekarameliseer.
Roer water en melk met ‘n houtlepel by tot opgelos.
Roer botter en sout by.
Maak ‘n pasta met mielieblom en ‘n bietjie ekstra melk.
Roer mielieblompasta by karamelmengsel in en laat ‘n minuut lank kook.

NB. Berei stroop vooraf. Hou warm. Gooi warm stroop oor warm poffers en bedien.

Botterskorsie & Feta Fritatatjies
Lewer 24 klein kolwyntjiegrootte fritatatjies of ‘n 2liter tertbak.

Bestandele:

1 groot botterskorsie (1kg+), geskil, ontpit en in 1,5cm-2cm blokkies gesny
1 groot ui (225g) geskil en in 1cm blokkies gekap
3e (45ml) olyfolie
¼ suurlemoen se sap
2 knoffelhuisies, geskil en fyn gekap
seesout, onverwerk
swartpeper, vars gemaal
24 salieblare of 24 basilieblare, geskeur
2 ringe fetakaas, gekrummel
1½k (150g) cheddarkaas, grof gerasper
6 groot eiers
1k (250ml) volroommelk
½k (125ml) room
½e (7,5ml) groente-aftrekselpoeier (Ina Paarman’s)
seesout, onverwerk
swartpeper, vars gemaal

Metode:

Voorverhit oond tot 200°C. Bedek die botterskorsie, ui en knoffel met die olyfolie in ‘n oondpan. Sprinkel die suurlemoensap, sout en swartpeper daaroor.
Rooster die botterskorsiemengsel tot gaar en effens gekaramaliseer (45min tot 1 uur). Indien jy die salieblare gebruik, roer dit gedurende die laaste 10 minute tot ‘n kwartier by.
Klits die eiers, melk, room, groente-aftrekselpoeier, seesout en swartpeper saam en laat eenkant staan.
Gebruik silikoon-muffinhouertjies (net so) of smeer ‘n groot 2 liter tertpan of pyrexbak met botter.
Verdeel die botterskorsiemengsel tussen die muffinhouertjies (of versprei onder in pyrexbak).
Verdeel die basilieblaartjies (indien gebruik), feta- & cheddarkaas tussen die muffinhouertjies (of versprei dit oor die botterskorsiemengsel in die pyrexbak).
Roer die eiermengsel om die onoplosbare dele (soos gedeeltes van die aftrekselpoeier) te versprei en verdeel dit tussen die muffinhouertjies (of skink dit oor die bestandele in die pyrexbak).
Bak teen 180°C tot gestol (20-30 minute vir die muffingrootte fritatatjies / 45-55 minute vir die groot tertgrootte fritata).
Bedien met ‘n groen slaai (& miskien vars Franse brood) as ‘n ligte ete.
As voorgereg – bedien 3 kolwyntjiegrootte fritatatjies op gemengde slaaiblare met 2 of 3 gehalveerde rosatamatietjies.