
Radio:
Die gekose medium, omdat dit toegang tot so ‘n groot hoeveelheid, uiteenlopende, wyd-verspreide mense het. Afrikaans is tans die tweede grootste taal in die Suid-Afrikaanse uitsaaiwese met ongeveer 4 miljoen luisteraars!
Ons begin met internet-radio wat ‘n aansienlik kleiner mark is, maar dit word reeds deur 5% van alle radioluisteraars gebruik. Dit gee ons ook toegang tot Afrikaanssprekendes reg oor die wêreld. Ons beoog om op medium- tot langtermyn ook op fm uit te saai.
Nuwe Lied:
‘n Radiostasie is nie ‘n nuwe idee nie (alhoewel internetradio spesifiek meer toekomsgefokus is) en liedjies is niks nuuts op ‘n radiostasie nie. So wat is dan nuut? Die manier waarop ons die ‘alledaagse’ lewe wil kombineer met Christelike vermaak, -lering en -opleiding. Tans is daar uitsluitlik Christelike stasies wat Christelike musiek en -preke of -leringe uitsaai. Dan is daar Afrikaanse stasies wat ‘n Christelike grondslag het wat in praktyk neerkom op gereelde oordenkinge. Radio Nuwe Lied gaan ‘n brug tussen die twee benaderings wees. ‘Nuwe Lied’ impliseer ook nuwe kommunikasie. Ons beplan om nie net by die tradisionele meer ‘liggewig’ benadering van die algemene media te bly nie, maar ook die meer ‘swaargewig’ onderwerpe van lering, soos deur Jesus aan sy dissipels geleer, aan die breëre publiek bekend te stel. Ons wil mense spreekwoordelik leer visvang. Daar sal natuurlik ‘n goeie dosis nuwe liedere ook wees!


Klets:
Lekker gesels oor ernstige onderwerpe, sowel as gemeenskapsake. Ons bied ‘n hele reeks uiteenlopende soort programme aan saam met die musiek.
Kuier:
Kuier spreek van ‘n gemaklike vertrouensverhouding. Ons gaan poog om so ‘n verhouding met Afrikaanssprekende Christene te vestig, waar die stasie vertrou kan word om Christelike en gesinsvriendelike inhoud uit te saai. Ons wil ‘n veilige heenkome skep vir mense wat besef wat ‘n groot invloed die media op ons en ons kinders het.


Luister:
Radio gaan grootliks oor luister en hier word meer verwys na die vermaaklikheidsaspek van die stasie. Ons speel heerlike musiek van alle soorte kunstenaars, solank as wat dit gesinsvriendelik is, nie net ‘Gospel’ of lof- en aanbiddingsmusiek nie.
Leer:
Hierdie komponent gaan nuut wees in die opsig van ‘n stasie wat steeds kommersiëel onafhanklik probeer wees. Ons verskaf leringe oor alle aspekte van Christenwees, van ouerskap tot innerlike genesing. Ons glo dis tyd dat mense aangemoedig en toegerus word om self geestelik te groei om sodoende ook ander te kan help en bedien. Ons gaan materiaal beskikbaar stel om die breë Liggaam van Christus hiermee te ondersteun.


Christelike lewenswyse:
Christenskap behoort jou hele menswees te beheer. Daar behoort nie ‘n skeiding tussen die Christelike en ‘normale’ gedeelte van ‘n Christen se lewe te wees nie. Christenskap bepaal hoe jy jou godsdiens uitleef, maar ook hoe jy partytjie hou. Dit bepaal hoe jy jou huwelik aanpak, jou kinders grootmaak, jou geld bestee en jou besigheid bedryf. Dit is een lewenswyse en wêreldsbeskouing waarvan Christus en sy Woord die middelpunt is. Radio Nuwe Lied se programme spreek soveel as moontlik van die verskillende aspekte van ‘n Christelike lewenswyse aan, van vermaak tot bemoediging, lering tot gemeenskapsake.