Multi-Graan Muffins met Appel en Rosyne
(Maak 24 groot muffins.)

Bestandele:

2 eiers
1k (250ml/200g) ligbruinsuiker
¼k (60ml) canola- of makadamianeutolie
2k (500ml/176g) hawermout
½k (125ml) gemaalde vlassaad
½k (125ml) mieliemeel (geel, indien verkies)
1½k (375ml/180g) koekmeelblom (Eureka Mills – Stone-ground, Unbleached)
½t (2,5ml/knippie) seesout (Onverwerk – Nature’s Choice)
1e (15ml) koeksoda
1t (5ml) kaneel
1k (250ml) rosyne of bakmengsel van rosyne en sultana’s
2k (500ml) dikmelk/amasi/volroommelk
1t (5ml) vanielje-ekstrak (opsioneel)
1 groot groen appel (Granny Smith), grof gerasper
1 piesang, met ‘n vurk fyngedruk

Metode:

Klits die eiers, suiker en olie saam.
Meng al die droë bestandele (hawermout, vlassaad, mieliemeel, koekmeelblom, seesout, koeksoda, kaneel) en die rosyne deeglik saam.
Roer by die eiermengsel in.
Meng die dikmelk, vanielje, appel en piesang saam.
Roer by die meel-en-eiermengsel in, bedek en los dit oornag in die yskas.
Voorverhit die oond tot 180°C (of 155°C vir ‘n ‘Thermofan’-oond). Roer die mengsel deur en verdeel tussen 24 silikoonkolwyntjiekoppies. Bak vir 15 minute of tot gaar. (Toets met ‘n tandestokkie. Dit moet skoon uit die middel kom.)

(Indien jy verkies, kan jy slegs die helfte van die mengsel bak en die ander helfte laat oorstaan tot die volgende oggend, sodat jy twee dae na mekaar vars muffins kan bak. Die mengsel sal tot ‘n maand in die yskas hou.)

Lensieslaai met ‘n Pestotipe Sous
(Kan met Korserige Brood as ‘n Ligte Ete voorgesit word.)

Bestandele:

Vir lensiebasis:
300ml (250g) droë bruin lensies, oornag geweek in:
4k (1l) water &
klein knippie koeksoda
2e (30ml) botter of canola-olie
1 groot ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngemaak
1 hoenderaftrekselblokkie
of
1e (15ml) Ina Paarman’s Hoenderaftrekselpoeier
2 lourierblare
3k (750ml) water
3e (45ml) canola- of olyfolie
2e (30ml) balsamiese asyn

Vir pesto-agtige slaaisous:
½ ui, fyn gekap
¼k (60ml) Italiaanse pietersielie of Basiliekruid, fyn gekap
1t (5ml) Dijon mosterd
1 suurlemoen se sap
seesout (onverwerk)
swartpeper, vars gemaal
¼k olyfolie – eerste pers & rou (extra virgin & cold-pressed)

Laaste byvoegings, net voor opdiening:
2e (30ml) ansjovisfilette
of
¼k (60ml) brosgebraaide, gekapte spekvleis
of
2 wieletjies fetakaas, in klein blokkies gesny
1k (250ml) rosatamatietjies, gehalveer, indien verkies
¼k (60ml) swart olywe, ontpit en in ringetjies/stukkies gesny
paar krulblaar-slaaiblare (opsioneel)
korserige brood (opsioneel)

Metode:

Vir lensiebasis:
Week lensies oornag in 1 liter koue water en koeksoda. Dreineer.
Braai uie in botter/canola-olie in kastrol tot sag en glansend. Roer knoffel by en soteer nog 1 minuut.
Roer lensies in, dan water en lourierblare. Krummel aftrekselgeurblokkie in, of roer aftrekselpoeier in.
Kook tot lensies sag en alle vloeistof weggekook is.
Roer canola-olie of eerste hoeveelheid olyfolie en balsamiese asyn deur lensies en laat afkoel.

Vir pesto-agtige slaaisous:
Meng die ui, Italiaanse pietersielie of basiliekruid, mosterd, suurlemoensap, seesout en swartpeper in ‘n diep beker.
Gebruik ‘n staafmenger (stick blender) en meng die olyfolie in ‘n stroompie in die ander slaaisousbestandele in, totdat dit dikkerig word. Jy kan ekstra olyfolie gebruik, as jy wil.
Roer deur afgekoelde lensiemengsel.

Net voor opdiening:
Roer ansjovis / spek / feta deur, asook rosatamaties en olywe deur lensiemengsel.
Bedien op slaaiblare, met korserige brood, indien verkies.

Pasta met Geroosterde Tamaties, Feta, Hoender & Basiliekruid
(Bedien 4)

Bestandele:
1) Pasta:

250g (halwe pak) pasta – skroefies / spaghetti (wat ookal beskikbaar is – verkieslik 100% Semolina)
3l water
1t (5ml) seesout
1e (15ml) olyfolie

1) Metode:

Verhit water teen hoë hitte, totdat dat vinnig kook. Roer dan eers die sout by (anders vat die water langer om tot kookpunt te kom).
Gooi die pasta in en laat kook vir 9-12 minute – volgens die aanwysings op die pakkie. (Gewone koringmeelpasta kook vinniger gaar.)
Wanneer gaar (nie pap nie – toets naby die einde van die voorgeskrewe kooktyd), dreineer deur ‘n vergiettes, gooi terug in die warm pot en roer die olyfolie deur. Sit die deksel op om warm te hou, totdat jy inskep.

2) Tamaties & Feta

6-8 Rosatamatietjies per persoon – 24-32 in totaal (halveer, indien effens groter)
1 knoffelhuisie, fyn gekap/gedruk met knoffeldrukker
2 ringe fetakaas
seesout (onverwerk)
swartpeper, vars gemaal
2-3e (30-45ml) olyfolie
¼k + ⅛k (60ml + 30ml) basiliekruidblare, geskeur

2) Metode:

Terwyl die pasta kook – plaas tamaties, feta, knoffel en ¼k basiliekruidblare in ‘n oondroosterpan. Sprinkel olyfolie, seesout en swartpeper bo-oor. Roer of skud heen en weer om orals met olie te bedek.
Plaas onder warm oondrooster vir ongeveer 5 minute of totdat die skilletjies bars. Sit oondrooster af en los oondpan in oond, sodat die tamaties warm bly.

3) Hoenderrepies:

4 klein hoenderborsies, in repies gesny
1 knoffelhuisie, fyn gekap/gedruk met knoffeldrukker
1e botter
1e olyfolie
1e vars suurlemoensap
seesout (onverwerk)
swartpeper, vars gemaal

3) Metode:

Terwyl die tamaties rooster – verhit ‘n dikboompan tot redelik warm. Gooi botter en olyfolie in en (sodat die botter nie brand nie – effens verbruin is reg) direk daarna die hoenderborsierepies – versprei die hoenderrepies oor die panbodem, soos jy dit ingooi.
Moet vir eers nie daaraan roer nie. Los dit, sodat dit kan verbruin. (As jy te vinnig begin roer, trek die hoender water. Dit sal dit droog laat uitkom. Jy wil dit so sappig as moontlik hê.)
Geur intussen die hoenderborsies met sout en swartpeper.
Net voor die hoenderrepies reg lyk om te roer (dit sal wit begin raak tot halfpad of meer ‘boontoe’), strooi die fyn knoffel bo-oor.
Nou kan jy dit omroer. Wag so 30 sekondes en drup dan die suurlemoensap oor. Sodra die hoenderrepies gaar is, haal dit van die hitte af en bedek, indien nodig, as pasta nog nie heeltemal klaar is nie.
Dien onmiddellik op: Verdeel pasta tussen 4 bakkies, verdeel hoenderrepies en pansappe tussen 4 bakkies, verdeel geroosterde tamatie-en-fetamengsel en pansappe tussen 4 bakkies, strooi vars basilie (die laaste agste koppie) bo-oor en geniet.