Berei ‘n Midde-Oosterse Fees vir jou gesin & vriende. Maak dit ‘n partytjie van:
Ongesuurde Platbrode (wraps), Kofta-frikadelle, Tzatziki, Houmous & Tamatie-salsa. Meng jou eie Baharat-speserye – die bestandele is nie onmoontlik om te kry op ‘n klein dorpie nie. (Vir nagereg kan jy baklava, halva of Turkse lekkers aanskaf. Beide sal lekker saam met vanielje-roomys en vrugte gaan.)
Die resepte verskyn in volgorde van vermelding.
Ongesuurde Platbrood (Maak 6-8 ‘wraps’)
Bestandele:
3k (3 x 250ml/360g) ongebleikte, klipgemaalde koekmeelblom (bv. Eureka Mills Unbleached Stone-ground Cake Flour)
1k (250ml/250g) louwarm water
2t (10ml) ligbruinsuiker
1t (5ml) seesout (Nature’s Choice s’n is onverwerk en ongejodeerd)
1e (15ml/15g) botter
Metode:
Smelt botter & meng by water, suiker en seesout in.
Sif die meel by die water in. Knie tot glad en elasties – ongeveer 6 minute.
Indien die deeg te taai bly, knie nog meel by, ‘n kwart koppie op ‘n slag. Probeer so min as moontlik byknie, anders is die gaar ‘wraps’ te droog en taai.
Laat 15 minute lank onder kleefplastiek rus.
Bestrooi ‘n oppervlak met meel. Gebruik ‘n meelsif of selfs ‘n teesiffie. (‘n Teesiffie gee jou ‘n bietjie meer beheer.)
Verdeel die deeg in 6 tot 8 bolletjies. Rol hulle een-een baie dun uit (ongeveer 3mm), sodat elke deegsirkel steeds in jou pan pas. Bestuif jou koekroller en selfs die deeg, soos jy werk, sodat die deeg nie aan die werksoppervlak of koekroller vasklou nie. Plaas alles elke keer terug onder die kleefplastiek.
Verwarm ‘n dikboompan oor hoë hitte. Plaas jou eerste deegsirkel net so droog in die warm pan. Wag totdat die deegsirkel uitpof. Draai om en bak nog ‘n minuut of twee. Herhaal met die res van die deegsirkels.
Platbrood kan as ‘wraps’ gebruik word, of jy kan dit op hul eie, as versnapering gebruik, deur gegeurde, gesmelte botter met ‘n koskwassie daaroor te ‘verf’.
Fyngekapte knoffel & pienksout werk heerlik as geursel vir die botter.
Jy kan ook vars kruie, soos Italiaanse platblaarpietersielie fyn kap en oorstrooi.
Dit werk ook heerlik saam met Tzatziki of Houmous, as doopsous.
Meksikaanse Salsa of Italiaanse Tapenade sal ook fantasties daarmee werk.
Kry alles vooraf reg, sodat jy hulle nog louwarm kan eet. Geniet dit!
Kofta Frikadelletjies
Bestandele:
500g Beesmaalvleis (alternatiewelik – skaapmaalvleis is sonder weerga)
1 Ui, fyn gekap
2e (30ml) Olyfolie (2 e. ekstra vir braaidoeleindes)
2 Knoffelhuisies, fyngekap
¼k (60ml) fyn gekapte Pietersielie
⅛k (30ml) fyn gekapte Origanum
⅛k (30ml) fyn gekapte Koljanderblare (opsioneel)
2e (30ml) Baharat speserymengsel (of speserye soos hier onder)
Seesout na smaak (onverwerkte, ongejodeerde soort bv. Nature’s Choice Sea Salt)
As jy nie Baharat in die hande kan kry nie en nie lus het om Baharat vir toekomstige gebruik te meng nie – gebruik die volgende:
1t (5ml) fyn gemaalde Swartpeper
½t (2,5ml) fyn gemaalde Koljander
½t (2,5ml) fyn gemaalde Kaneel
½t (2,5ml) fyn gemaalde Naeltjies
½e (7,5ml) fyn gemaalde Komyn
⅛t (0.6ml) fyn gemaalde Kardamomsade
½t (2,5ml) fyn gemaalde Neutmuskaat
½e (7,5ml) Paprika
Metode:
Braai ui tot sag en glansend in die olyfolie. Roer die speserye by en roerbraai vir 1 minuut tot geurig. Haal af van hitte.
Voeg die res van die frikadelbestandele by en meng goed.
Vorm in golfbalgrootte frikadelle en braai in nog olyfolie in ‘n dikboompan tot gaar.
Bedien met Rys en Tzatziki of as ‘n ensemble met Platbrode, Houmous, Tzatziki & vars Tamatie-salsa.
Tzatziki (Turkse / Armeense / Griekse jogurtmengsel)
Bestandele:
½k (125ml) Komkommer, fyn gerasper
1k (250ml) Dubbel-Room Natuurlike Jogurt
1 huisie (½t/2,5ml) Knoffel, fyn gekap
Sout na smaak (verkieslik ongejodeerde seesout)
Metode:
Plaas komkommer in ‘n sif oor ‘n bak.
Besprinkel met sout na smaak.
Dreineer die komkommer’water’ vir ‘n kwartier. Druk die laaste bietjie uit.
Meng jogurt en knoffel daarby in.
Raita – Variasie: (Bedien saam met Kerrie)
Vir die Indiese weergawe, Raita:
Roer ‘n ¼ teelepel Komyn by, asook
Fyn gekapte Koljanderblare en/of Pepermentblare.– ⅛ tot ¼ koppie
Bedien Tzatziki saam met platbrode as snoephappie.
As volledige ete – bedien met platbrode, houmous, salsa & kofta’s.
Bedien Raita saam met Papadums (krakerige Indiese Platbrood) en/of Kerrie.
Houmous (Kekerertjiepuree)
Bestandele:
1 blikkie kekerertjies (gaar, ‘chickpeas’)
1e (15ml) Olyfolie (verkieslik ‘Extra-Virgin Cold-Pressed’ vir gesondheid)
¼t (1,2ml) Komyn (fyn)
½ suurlemoen se sap + fyn gerasperde skil
1 knoffelhuisie (fyngemaak)
Sout en Peper na smaak
Opsionele bestandele:
1e (15ml) Tahini (sesamsaad pasta (‘paste’))
½t (2,5ml) Gerookte Paprika
vervang suurlemoen met ⅛ tot ¼ ingelegde suurlemoen
Metode:
Dreineer kekerertjies, maar BEHOU VLOEISTOF.
Meng alles by mekaar in versapper (‘blender’). Gooi net genoeg van die vloeistof terug om alles tot ‘n gladde pasta te meng. Geur na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper.
Geniet as ‘doopsous’ of saam met Midde-Oosterse disse.
Vars Tamatie-salsa
3 Italiaanse (Konfyt) Tamaties in klein (1cm) blokkies gesny
½ Ui, fyn gekap (rooi ui is veral lekker)
¼k Koljanderblare, fyn gekap
1 Knoffelhuisie, fyn gekap (opsioneel)
sap van ‘n halwe Lemmetjie/kwart Suurlemoen
Seesout
Dié tamatie-salsa gaan saam met alle soorte Mediterreense en Midde-Oosterse kos.
Variasies:
Meksikaanse disse – voeg 1 gekapte vars groen rissie (chilli – soos Jalapeno) by.
Indiese sambal – voeg ook gekapte mentblare by en vars groen rissie (chilli), indien die res van die kos nie reeds baie sterk met chilli gegeur is nie.
Turkse Speserymengsel – Baharat
(Maak 2 koppies)
Bestandele:
4e (¼k/60ml) fyn gemaalde Swartpeper
2e (⅛k/30ml) fyn gemaalde Koljander
2e (⅛k/30ml) fyn gemaalde Kaneel
2e (⅛k/30ml) fyn gemaalde Naeltjies
3e (¼k + ⅛k/90ml) fyn gemaalde Komyn
1t (5ml) fyn gemaalde Kardamomsade
4t (20ml) fyn gemaalde Neutmuskaat
4e (¼k/60ml) Paprika
Metode:
Meng saam en hou in lugdigte houers in die yskas tot ‘n jaar.
Jy kan ook die speserye heel hou, dit droogrooster en dan maal. Lourierblare verleen ekstra geur daaraan.
Nuutste Opmerkings