Korslose Melktert
Bestandele:
4 eiers, geskei
1k (200g) ligbruinsuiker
5e (75ml/60g) botter
1k (250ml/120g) koekmeelblom (verkieslik Eureka Mills)
1t (5ml) bakpoeier
knippie (½t/2,5ml) seesout (onverwerk)
4k (1l) volroommelk
1t (5ml) vanielje-ekstrak
3e (45ml) kaneelsuiker
Metode:
Voorverhit oond tot 180°C. Smeer twee standaardgrootte tertborde of een tertbak met ‘n 2 liter kapasiteit met botter.
Klits eiergele, suiker en botter saam tot romerig.
Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam.
Klits dit om die beurt met ‘n koppie van die melk by die eiergeelmengsel in.
Klits nou die res van die melk en die vanielje-ekstrak geleidelik by die eiergeelmengsel in.
Klits die eierwitte tot styf en vou dit liggies met ‘n metaallepel in die melkmengsel in – dit is ‘n dun mengsel.
Skink dit in die gesmeerde tertborde en strooi die kaneelsuiker bo-oor.
Bak die terte 40-50 minute op die middelste oondrak tot gaar. Die 2liter melktert sal langer bak.
Laat minstens 15 minute staan voordat gesny word. Kan warm of koud voorgesit word.
Opgetofde Melkpap
(Iets tussen korslose melktert, vla, melkpap en soet soufflé – op die stoof gemaak.)

All-focus
Bestandele:
5k (1,250 l) volroommelk
4 stukke kaneelstok
6 kardemomsade, oopgebreek en saadjies gebruik
½t (2,5ml/knippie) seesout
½k (125ml) ligbruinsuiker
1k (250ml/120g) koekmeelblom (verkieslik Eureka Mills)
2e (30ml/30g) botter
4 eiers, geskei
1t (5ml) roosekstrak / 2t (10ml) rooswater
½t (2,5ml) kremetart (opsioneel)
2e (30ml) geroosterde amandels, gekap (opsioneel)
Metode:
Verhit melk, kaneelstukke, uitgedopte kardemomsaadjies en sout saam tot kookpunt.
Vis die kaneelstukke uit, of as die kardemomsaadjies jou sou pla, syg die melk deur ‘n fyn sif.
Klits genoeg van die warm melk by die meel in, om ‘n dunnerige, gladde mengsel te verkry. (Miskien selfs 2 koppies.)
Gebruik ‘n draadklopper en klop die meelmengsel by die melk in die pot terug, terwyl jy die melk herverhit. Laat dit twee of drie minute lank prut tot dik en gaar.
Roer die botter by.
Klits die suiker bietjies-bietjies saam met die eiergele tot lig.
Klop ‘n koppie of twee van die warm melkpap by die eiergeelmengsel in.
Klop die eiergeel-en-melkmengsel met jou draadklopper terug by die melkpap in die pot. Roer goed deur, maar moenie dat dit kook nie. Dit kan skif. Haal nou van die plaat af en roer die roosekstrak by.
Klits die eierwitte met kremetart tot styf.
Vou dit versigtig met ‘n metaallepel by die dik, warm vlamengsel in. (Sit die deksel op die pot en laat so staan, terwyl jy jou huismense by die tafel kry. So sal diegene, wat vir rouerige eier gril, nie hoef te gril nie. Die paar minute sal genoeg hitte verskaf om die eierwit ook gaar te kry.)
Skep in bakkies en strooi geroosterde amandels oor. Geniet as soet (maar proteïenryke) aandete. (Plaas kaneelsuiker op die tafel vir diegene wat ekstra soettande het.)
Spoggerige Gebakte Vla
(Roos/Aarbei)
(Bedien 4-6)
Bestandele:
2½k (625ml) volroommelk
4 eiers (groot)
¹⁄₃k (80ml/65g) suiker
¼t (1,2ml) seesout (onverwerk)
1t (5ml) roosekstrak/vanielje-ekstrak
3e (45ml) roosjellie/aarbeikonfyt
1k (250ml) room
1e (15ml) strooisuiker
30g donkersjokolade, gerasper
Metode:
Jy kan hierdie resep in jou oond maak, maar ek verkies om dit in ‘n mikrogolfoond te maak, aangesien dit ‘n kwart van die tyd neem.
Indien jy ‘n oond gaan gebruik, voorverhit dit tot 170°C.
Verhit die melk tot net onder kookpunt (op die stoof of in die mikrogolfoond).
Klits die eiers, suiker, sout en ekstrak saam tot lig.
Roer die warm melk geleidelik daarby in en keer dit uit in ‘n liggies gesmeerde oond/mikrogolfvaste glasbak (bv. Pyrex). (Ek smeer myne met ‘n botterpapiertjie – die papier waarin botter verpak is.)
Mikrogolfmetode: Stel die mikrogolf op 50% krag (medium) en mikrogolf die mengsel vir ongeveer 12 minute. Laat staan vir 8 minute. (Die presiese tydsduur sal van die sterkte van jou mikrogolfoond afhang.)
Oondmetode: Bedek die bak met foelie, plaas dit in ‘n oondpan met water wat halfpad teen die kant op is en bak dit 1¼ tot 1½ uur lank tot gestol.
Laat dit heeltemal afkoel. Los dit oornag in die yskas, of dan minstens ‘n uur nadat dit afgekoel is, sodat die vla stewig is.
Smeer nou jou roosjellie of aarbeikonfyt bo-op. As die konfyt nie genoeg is om die hele oppervlak te bedek nie, gebruik meer. Die hoeveelheid is slegs ‘n aanduiding.
Klits die room met die eetlepel strooisuiker tot styf. Smeer dit versigtig in ‘n dik laag bo-op die konfyt. Moenie dit te glad maak nie. Laat dit rowwe ‘sneeupieke’ vorm.
Rasper nou jou sjokolade sommer direk op die roomlaag.
Skep op en geniet. Dis ‘n nagereg vir ‘n warmer dag.
(As jy regtig spoggerig wil wees, kan jy versuikerde roosblare ook bo-oor strooi vir die roosweergawe of aarbeiwaaiertjies in sjokolade doop en bo-op rangskik vir die aarbeiweergawe.)
Nuutste Opmerkings