Chilli Con Carne
(Bedien met Tortilla’s, ens.)
Bestandele:
1 groot ui, fyn gekap
1e (15ml) olie – Canola
300g (tot 500g – opsioneel) maalvleis
1 knoffelhuisie, fyn gedruk
1 rooi soetrissie, fyn gekap (opsioneel)
1/2 stronke geelmielies, van die stronk af gesny (opsioneel)
1 blik bone, bv. rooi nierbone, gespikkelde suikerbone of swartbone (pintobone is die mees tradisionele boonsoort vir Meksikaanse kos)
sout
swartpeper, vars gemaal
1t (5ml) fyn komyn
1t–1e (5ml tot 15ml) gedroogde brandrissievlokkies (hangende af van jou gesin se ‘brand’toleransie)
1 blik Italiaanse Tamaties (klaar gekapte soort werk die maklikste)
½k-1k (125ml tot 250ml) vars koljanderblare, na gelang van smaak (Jy kan dit met origanum – vars (1e) of gedroog (1t) vervang, indien jy nie koljanderblare in die hande kan kry nie, of as jou gesin dink dat dit soos seep proe. Oor die algemeen het mense ‘n liefde/haat-verhouding met koljanderblare.)
sap van halwe klein lemmetjie (gebruik ander helfte vir Guacomole en Salsa Cruda)
kookwater om alles mee te bedek.
1k (250ml) Cheddarkaas (opsioneel)
¼k (60ml) suurroom (opsioneel)
Metode:
Braai uie in olie tot amper deurskynend. (‘n Ysterpot werk lekker, of enige ander dikboompot.)
Voeg maalvleis by en breek met lepel in fyn korreltjies.
Roer knoffel, rooi soetrissie (indien gebruik), sout, swartpeper en rissiepoeier by en roerbraai tot die vleis verbruin het. (Karamalisering, maak kos geuriger.)
Roer die geel mielies (indien gebruik), bone (jy kan die soutwater byvoeg, as jy wil), geblikte tamaties, koljanderblare, lemmetjiesap en kookwater by.
Bedek en laat vir minstens 30 minute prut tot sous ingekook het.
Bedien met Meksikaanse platbrood (tortilla’s) / mielie tortilla ‘chips’/ mieliebrood / rys, cheddarkaas en suurroom (indien gebruik). (Mieliebrood of rys is nie tradisioneel nie, maar kan ook werk.) Ander moontlike byvoegings is Guacamole, Salsa Cruda & Meksikaanse gebraaide bone (‘refried beans’).
Gebraaide Bone (‘Refried Beans’)
(Bedien in Tortilla’s met Guacamole & Salsa Cruda
– Vleisloos/vegetaries as vol resep, ‘n halwe resep saam met Chilli con Carne, as ekstra.)
Bestandele:
1 of 2 blikke bone – Pinto is tradisioneel, maar rooi nierbone, gespikkelde suikerbone of swartbone werk ook.
1½e of 3e spekvet (of Olyfolie/Botter)
2e of 4e varkvet (of Olyfolie)
½ of 1 ui, fyn gekap
1 of 2 knoffelhuisies
¼t (1,2ml) brandrissie vlokkies
75g of 150g kaas, grof gerasper. Monterey jack is tradisioneel, maar Cheddar werk ook.
Seesout & varsgemaalde swartpeper na smaak
Metode:
Dreineer die bone, maar behou die vloeistof.
Maak die bone met ‘n vurk fyn. Moenie ‘n voedselverwerker gebruik nie. Dit moet steeds tekstuur hê.
Braai die ui in die vet tot sag.
Sorg nou dat die vet redelik warm is en voeg die fyngedrukte bone by. Voeg ook die knoffel en brandrissievlokkies by.
Verlaag die hitte na net onder medium. Roer gereeld, totdat al die vet geabsorbeer is. As die boonmengsel nou te dik is, verdun lepelsgewys met die kookvloeistof, wat jy behou het.
Roer die kaas by en laat smelt. Geur na smaak met sout en swartpeper.
As jy vleisloos/vegetaries wil eet, maak die vol resep (vervang vet met geurige olie/botter) en bedien in Tortilla’s met Salsa Cruda en Guacamole. As jy dit saam met die Chilli con Carne eet, maak net die helfte van die Gebraaide Bone en los miskien die bone uit die Chilli con Carne resep uit.
Guacamole
(Bedien as Doopsous of met Chilli con Carne in Tortilla’s)
Bestandele:
2 groot avokado’s, gehalveer, ontpit en uit skil geskep
2t (10ml) lemmetjiesap (of suurlemoensap)
¼k (60ml) suurroom
1 knoffelhuisie, baie fyn gekap (opsioneel)
1 klein Italiaanse tamatie, fyn gekap (opsioneel)
1 ingelegde Jalapeno brandrissie, ontpit en baie fyn gekap (opsioneel)
¼k (60ml) ui, baie fyn gekap of fyn gemaak met ‘n voedselverwerker (opsioneel)
2e (30ml) koljanderblare, fyn gekap (opsioneel)
Metode:
Maak avokado’s fyn met ‘n vurk.
Meng lemmetjiesap en suurroom goed daardeur. (As jy dit saam met die Chilli con Carne en Salsa Cruda in Meksikaanse Platbrode gaan eet, kan jy net hier eindig. As jy egter die Guacamole vir ‘n doopsous vir Meksikaans Mielie’chips’ wil gebruik – gaan voort met die res.)
Meng die res van die bestandele baie goed deur vir ‘n heerlike doopsous of bolaag vir Nachos.
Nachos
As jy Nachos wil maak, smelt 2k Cheddarkaas oor ‘n groot pak Meksikaanse Mielie’chips en smeer Guacamole oor voor jy dit opdien. Jy kan ook ekstra ontpitte Jalapeno’s en fyn gekapte Sprietuie oorstrooi (voordat jy die kaas oorstrooi) en dit saam in die oond sit om te smelt. Dit sal ongeveer 5 minute teen 180°C neem.
(MOENIE DIE GUACAMOLE SAAM IN DIE OOND SIT NIE. Dit kan BITTER WORD. Smeer dit na die tyd op.)
Salsa Cruda
(Bedien as Doopsous of in Tortilla’s)
Bestandele:
1 medium wit ui, geskil en baie fyn gekap, of ge’maal’ in ‘n voedselverwerker
3 vars Italiaanse tamaties, fyn gekap (geskil – opsioneel)
2e (30ml) koljanderblare, fyn gekap
1 knoffelhuisie, baie fyn gekap
1 klein, groen brandrissie (chilli), baie fyn gekap
1e (15ml) lemmetjiesap (of suurlemoensap)
seesout (onverwerk) na smaak
Metode:
Meng alles (behalwe sout) binne die laaste uur voor ete. Voeg die sout op die laaste minuut by.
As jy die tamaties wil skil, sal die volgende dit vergemaklik: Bedek die heel tamaties met kookwater in ‘n bakkie. Die skil behoort na ‘n rukkie te bars en soms effens op te krul. So kan jy die skilletjies redelik maklik aftrek, voordat jy dit tamaties fyn kap.
As jy die salsa saam met die Chilli con Carne in Tortilla’s gaan gebruik, kan jy die brandrissie uitlos, as jy wil. As jy dit as doopsous vir Meksikaans Mielie’chips’ wil gebruik, sluit die brandrissie in.
Meksikaanse Troukoekies
(Lewer ongeveer 30 4cm-koekies)
Bestandele:
2½k (625ml/300g) koekmeelblom (verkieslik Eureka Mills se Ongebleikte, Klipgemaalde Koekmeelblom)
¼t (1,2ml/klein knippie) seesout (onverwerk)
1k pekanneute, fyn gekap (of amandels vir Griekse weergawe)
1k (250ml/230g) botter, teen kamertemperatuur
½k (125ml) versiersuiker
2t (10ml) vanielje-ekstrak
1½k (ongeveer) ekstra versiersuiker
Metode:
Roer meel, sout en neute deeglik saam; sit eenkant. Voorverhit oond tot 180°C.
Gebruik sterk menger en klits botter en halfkoppie versiersuiker saam tot lig en romerig. Klits vanielje-ekstrak by.
Klits meelmengsel geleidelik by. Hou op sodra ‘n bal vorm.
Vorm deeg in 3,5cm deursnee balletjies. Plaas ongeveer 5cm van mekaar op (ongesmeerde) bakplate. Bak tot ferm en liggoud (ongeveer 20 tot 25 minute).
Terwyl koekies in die oond is, versprei ¾k (180ml) van die oorblywende versiersuiker op ‘n bakplaat met ‘n rant (of ‘n oondpan). Sodra die koekies klaar gebak is, plaas hulle in die versiersuiker. Sif nou ook baie van die res van die versiersuiker bo-oor die warm koekies. Draai koekies in die versiersuiker, indien nodig, om al die oppervlaktes deeglik met versiersuiker te bedek. Verplaas na draadrakkies om klaar te laat afkoel.
Nuutste Opmerkings