Maalvleis- en Lensiefrikadelletjies in Basilietamatiesous
4-6 porsies

Bestandele:

Frikadelle:

1 groot ui, grof gekap
2e (30ml) olyfolie om ui in te braai
200ml droë bruinlensies
400ml water
1 biefekstrak blokkie
1 lourierblaar (opsioneel)
300g tot 500g gemaalde beesvleis (maalvleis)
1 handvol broodkrummels / hawermoutvlokkies
1 groot eier
1t (5ml) droë orego (oreganum)
¼k (60ml) vars basilie, fyn geskeur / ½e (7,5ml) gedroogde ‘sweet bazil’
seesout en varsgemaalde swartpeper

Tamatiesous:

1 blik (410g) gekapte Italiaanse Tamaties / 2 blikke, as jy baie sous wil hê
½k (125ml) vars basilie, fyn geskeur
½e (7,5ml) ligbruinsuiker
1t (5ml) wit druiwe-asyn of suurlemoensap
seesout en varsgemaalde swartpeper
1-2 knoffelhuisies, fyngedruk of gekap
Ekstra olyfolie om mikrogolf- of oondbak (pyrex) mee te smeer

Metode:

Braai ui in olyfolie tot sag en glansend. Voeg droë lensies, water, ekstrakblokkie en lourierblaar by en kook lensies tot sag en gaar. Laat afkoel tot ‘n hanteerbare temperatuur. (Die frikadelle behou makliker hul vorm, as jy die lensies behoorlik gaarmaak en deels fyn druk.) Wenk: As jy haastig is, kan jy ‘n blik of twee gaar lensies gebruik. Dit gaan nie heeltemal so geurig wees nie, maar sal steeds werk.
Meng die maalvleis, broodkrummels, eier, orego, basiliekruid, seesout en swartpeper met die lensie-en-uiemengsel en vorm golfbalgroot frikkadelletjies daarmee. Pak dit in ‘n mikrogolf- of oondbestande bak.
Bedek en bak teen 100% krag vir 10 minute (bereken vir 850 Watt mikrogolfoond). As jy dit in ‘n konvensionele oond wil bak, skat ek dat dit minstens 40 minute teen 200°C gaan moet bak, voor jy die sous oorgooi.
Meng die tamaties met die oorblywende bestandele vir die sous. Giet dit oor die frikadelle. Bedek en bak vir ‘n verdere 5 minute teen 100% krag. In ‘n konvensionele oond, skat ek dat nog 20 minute se baktyd nodig sal wees.
Bedien die frikadelle saam met pasta of rys en slaai, indien verkies.

Variasies:
Maak die dubbele hoeveelheid sous (met die ekstra blik tamatie), skeur mozzarellaballe in stukke en strooi dit tussen die frikadelle en sous in die laaste gedeelte van die baktyd. Bedien met spaghetti.
Gooi heel koolblare in stadig pruttende water tot net sag genoeg om die frikadelle mee ‘toe te draai’, gooi die sous bo-oor en bak soos gewoonlik. Bedien met mediumkorrel rys.

Oumagrootjie Charlotte se Veeldoelige Gebakte Poeding Resep
4 porsies

Basiese deegbestandele:

1k (250ml) melk / dikmelk
1e (15ml) gesmelte botter / canola olie
1 eier
1k (250ml/120g) koekmeelblom (verkieslik ongebleikte, klipgemaalde koekmeel van Eureka Mills)
4t (20ml) bakpoeier
of
2½t (12,5ml) kremetart & ½e (7,5ml) koeksoda
¼k (60ml) ligbruinsuiker
knippie (½t/2,5ml) sout
1t (5ml) vanielje-ekstrak (opsioneel)

Metode:

Smelt botter en meng met melk of dikmelk.
Klits eier by.
Meng droë bestandele en roer met vurk of draadklopper by melkmengsel in.
Keer uit in gesmeerde oondvaste bak (1,5l volume).
Bak teen 180°C tot goudbruin en gaar (ongeveer 30 – 40 minute vir basiese poeding, maar meer – bv. ongeveer 50 – 60 minute vir die vrugtevariasies).

Basiese bolaagbestandele:

2-4e (30-60ml) stroop of heuning (na smaak)
1e (15ml) botter

Metode:

Smelt saam en smeer oor warm poeding soos dit uit die oond kom.
Bedien met geklopte room.

Variasies:

1) Dreineer ‘n blikkie (410g) ingelegde perskes en versprei die perskes op die bodem van ‘n oondvaste bak. (Strooi 2 of 3 eetlepels ligbruinsuiker oor en stip met botter, indien verkies – opsioneel.) Giet die deeg oor en bak soos gewoonlik. Hou in gedagte dat dit gewoonlik ‘n langer tyd neem om gaar te word met die vrugte in. Bedien met geklopte room of met karamelsous (resep hier by).
2) Dreineer ‘n blikkie (410g) tertappels en versprei appels op die bodem van jou oondvaste bak. Strooi ruim kaneelsuiker oor die appels, asook ‘n paar druppels vars suurlemoensap. (Stip met botter, indien verkies.) Bedek met deeg en bak met ‘n verlengde baktyd tot goudbruin en gaar. Bedien met geklopte room of vla.
3) Bedek bodem van gesmeerde oondbak met ‘n 5mm laag nastergalkonfyt. Giet die deeg bo-oor en bak met ‘n verlengde baktyd tot goudbruin en gaar. Bedien met geklopte room.

Karamelsous
(vir saam met perskevariasie van poeding)

Bestandele:

150ml (120g) ligbruinsuiker
600ml volroommelk
1-2e (15-30ml) mielieblom (vir ‘n dun tot mediumdikte sous, na gelang van smaak)
1-2e ekstra melk om mielieblompasta te maak
knippie (2,5ml) seesout
2e (30ml/30g) botter

Metode:

Smelt suiker (net so – sonder vloeistof) oor hoë hitte in souspotjie. Roer dan en wan met houtlepel tot deurgesmelt en goudkleurig. (Wees versigtig om die suiker nie te bruin te laat word nie. Dit sal ‘n branderige geur begin kry.) Verwyder van die hitte.
Voeg die melk bietjie-bietjie by en roer dan oor lae hitte, totdat al die suiker opgelos het.
Meng die mielieblom met net genoeg van die ekstra melk om ‘n pasta te vorm.
Bring die karamelmelk weer tot kookpunt oor mediumhitte.
Roer die mielieblompasta by die kokende melkmengsel en roerkook vir nog ‘n minuut of twee tot verdik en gaar.
Roer die sout en botter by en bedien warm saam met die warm perskepoeding.