Dikmelk/Jogurt-Lemoenkoek met Sjokoladeknopies en Stroop

All-focus

Bestandele:
Vir koek:

3 eiers
1k (250ml/200g) ligbruinsuiker
3e (45ml) gerasperde lemoenskil (3 lemoene se fyn gerasperde skil)
1½k (375ml/180g) koekmeelblom (Eureka Mills Ongebleikte Klipgemaalde Koekmeelblom)
1t (5ml) kremetart
½t (2,5ml) koeksoda
½t (2,5ml) seesout
¾k (180ml) dikmelk/karringmelk/amasi/dubbelroomjogurt
¼k (60ml) Canola-olie
¼k (60ml) sjokoladeknopies
1e (15ml) sjokoladeknopies vir garnering

Vir stroop:

1k (250ml/200g) ligbruinsuiker
¾k (180ml) water
3e (45g) botter
1k (250ml) lemoensap (sap van 3 lemoene)

Metode:
Vir koek:

Voorverhit oond tot 180°C. Smeer ‘n diep koekpan of voer ‘n losboompan met bakpapier.
Klits eiers. Voeg suiker by en klits tot dik.
Sif meel, kremetart, koeksoda en sout saam.
Klits dikmelk en olie saam.
Klits die helfte van die meelmengsel by die eiermengsel in.
Klits die helfte van die dikmelkmengsel by die eier-en-meelmengsel in.
Klits die res van die meelmengsel by die eier-en-meelmengsel in.
Klits die res van die dikmelkmengsel en die lemoenskil by die eier-en-meelmengsel in.
Keer beslag uit in koekpan, strooi ¼k sjokoladeknopies bo-oor en bak 20 tot 30 minute tot gaar.

Vir stroop:

Terwyl die koek bak, roer suiker, water en botter oor medium hitte in souspotjie, totdat suiker opgelos het.
Bring tot kookpunt en laat 5 minute lank kook.
Haal af van hitte en roer lemoensap by.
Gooi warm stroop oor koek ‘n paar minute na dit uit die oond gekom het en ‘n toetspen skoon uitkom.
Laat heeltemal afkoel voor ontvorm.
Versier met ‘n strooisel sjokoladeknopies en bedien met geklopte room of dik room.

Drie-Sitrus Marmelade

All-focus

Bestandele:

4 suurlemoene
2 lemoene
1 pomelo
6 liter water
2,7 kg suiker
+
9 tot 10 heuninggrootte glasflesse

Metode:

Was vrugte en sny baie fyn op – skil ingesluit.
Bedek met 6 liter water en laat oornag in ‘n plastiek- of erdebak staan.
Dreineer vrugte die volgende oggend, maar behou die water.
Bring die water tot kookpunt. Roer die suiker in, totdat dit opgelos is.
Voeg die vrugte bietjie-vir-bietjie in, sodat die temperatuur so konstant as moontlik bly.
Kook totdat die vrugte gaar en deurskynend is. Gooi ‘n bietjie in ‘n piering en laat afkoel om te sien of dit genoegsaam ‘n jellie vorm. Indien nie – kook en toets tot reg.
Steriliseer, vroeg tydens kooktyd, glasflesse as volg: Laat staan op ‘n draadrakkie in ‘n pot. Maak vol met kookwater. Skink nog kookwater in die pot self tot halfpad teen die glasflesse op. Bring tot kookpunt en laat kook vir 10 minute. Laat afkoel. Keer water uit kort voordat jy die flesse met die warm konfyt vul. (Die deksels kan ook so gekook word.)
Wanneer die marmelade reg is – skep soplepelsvol van die kokende marmelade in die flesse. As jy wil, kan jy waspapier in sirkeltjies sny, dit in alkohol doop, om dit te steriliseer, dit bo-oor die bek van die flesse plaas en dan die deksels opskroef. Dit behoort die raklewe van die marmelade verder te verleng.
Stoor in ‘n droë, donker plek. Wanneer dit oopgemaak is om te gebruik, bêre dit daarna in die yskas.