Gevriesde Kaaskoek
(Genoeg vir een klein tertbak. Verdubbel vulselbestandele vir losboompan.)
Bestandele:
Kors:
1 pak (200g) Tennisbeskuitjies
100g botter
Vulsel:
1 blik volroom kondensmelk
1 houer gladde maaskaas (of een houer sagte roomkaas)
1 kondensmelkblik room
¼ koppie (60 ml) vars suurlemoensap
fyngerasperde skil van ‘n halwe suurlemoen (opsioneel)
Metode:
Vir kors:
Breek beskuitjies in kleiner stukke en gooi in menger met lem. Maak fyn teen stadige spoed – pols, as jou menger die funksie het.
Smelt botter, gooi by krummels in menger en pols tot net gemeng.
Druk vas in ronde vlekvrye staal tertbak (of druk vas in losboompan).
Vir vulsel:
Gooi kondensmelk in ‘n groterige, diep beker, as jy van ‘n staafmenger gebruik gaan maak, andersins in ‘n mengbak, as jy van ‘n elektriese klitser gaan gebruik maak.
Skraap maaskaas (of sagte roomkaas) daarby in.
Gooi suurlemoensap en skil (indien gebruik) daarby in. Meng of klits op hoogste verstelling vir 5 minute.
Gooi room by en meng of klits vir nog 3-4 minute tot lugtig en dik.
Skraap uit in tertbak bo-op kors (of verdubbel vulselbestandele en skraap uit bo-op kors in losboompan). Bedek versigtig met foelie. Vries vir 4 ure in blitsvries-seksie (‘fast freeze’ section) van vrieskas, of oornag as jou vrieskas nie so ‘n blitsvries-seksie het nie.
Sny en geniet, of ontvorm, versier en geniet.
Variasies:
Gebruik sjokoladekoekies (bv. Romany Creams) vir die kors, laat die suurlemoenskil uit die vulsel uit en bedien met ‘n bessie coulis. Vir die coulis – gebruik ‘n bakkie of twee vars bessies (of gevriesde bessies) van jou keuse. Druk die bessies grofweg met ‘n vurk fyn, versoet na smaak met strooisuiker en verhit oor mediumhitte, totdat die suiker opgelos is. Laat afkoel. Bedien as sous saam met die kaaskoek, of laat dit as ‘n laag bo-op vries.
(As jy wonder hoeveel suiker jy gaan nodig hê, hier is ‘n aanduiding: Voeg ‘n derde tot die helfte van die volume bessies strooisuiker by. As jy dus 1 koppie bessies het, voeg ‘n ⅓k tot ‘n ½k strooisuiker daarby in.)
Of
Maak netso en bedien óf met suurlemoensmeer daaroor gedrup, óf smeer na 2 ure se vriestyd oor en vries die res van die 4 ure.
Of
Laat vulsel stol met 10g jelatien, gespons in 50ml water en verhelder in mikrogolfoond of oor kookwater. Vou in geklitste vulselbestandele in. As die vulsel dan sou begin ontdooi, voordat die kaaskoek klaar geëet is, sal dit steeds stewig genoeg bly. (By ons hou dit egter nie so lank nie. Ha-ha.)
Rou Beet, Appel en Jogurt Slaai

All-focus
Bestandele:
3 mediumgrootte soet, rou bete – geskil
1 groot (of 2 klein) Granny Smith appels
1k (250ml) dubbelroom ongegeurde jogurt
1e (15ml) olyfolie
½e (7,5ml) vars suurlemoensap
knippie sout
knippie vars gemaalde swartpeper
Metode:
Rasper die bete fyn.
Rasper die ongeskilde appel/s grof.
Meng die bestandele goed saam en dien op.
Seesout, Rooibos & Laventel Lyf&Voetskrop

All-focus
Bestandele:
1k (250ml) mediumgrowwe seesout (of sout)
¼k (60ml) fyn seesout (of sout)
2e (30ml) growwe seesout (of sout)
⅓k (80ml) soet amandelolie (of vloeibare paraffien)
2e (30ml) klapperolie (of gliserien)
2e (30ml) olyfolie
1e (15ml) rooibosteeblare
15 druppels laventel of roosmaryn essensiële olie
Metode:
Meng die bestandele saam en bêre in ‘n glashouer, wat dig seël – bv. ‘n houer wat met ‘n rubberring vastrek.
Maak ‘n etiket met bestandelelys met ‘n lintjie vas, as jy dit as ‘n geskenk gaan weggee.
Gesondheidsinligting:
Onverwerkte seesout is propvol minerale, wat potensiëel deur jou vel opgeneem word. Dit is dus ‘n aansienlik gesonder opsie as verwerkte sout met bygevoegde sintetiese jodium – middel waarvoor sommige mense allergies kan wees.
Natuurlike olies is baie beter as die soort wat vanaf petrol vervaardig word. Die olies, wat BP op die verpakking sê, veroorsaak dat die liggaam estrogeen vervaardig. Dit is hoekom soveel produkte deesdae ‘parabin free’ sê.
Laventel is antisepties, antifungaal & antibakteries. Ook werk dit uitstekend vir senuweepyn en verswikte enkels. Dit is dus ‘n uitstekende olie om aan jou voete te gebruik.
Roosmaryn is anti-inflammatories, verlig pyn & help bloedsirkulasie aan. Jou voete is een van die area’s waardeur jy van gifstowwe uit jou liggaam ontslae raak. Die verhoging van bloedsirkulasie in daardie area, behoort die proses te fassiliteer.
Nuutste Opmerkings