Dieselfde HEILIGE GEES is aan die praat…

‘n Paar weke gelede het Heidi die korrelasie tussen die ‘Verskroeide Aarde’-beleid en die wydverspreide brande, wat gereeld op brandstigting gedui het, gesien en dit met die gebedsgroep, waarvan sy deel is, gedeel. Daar is saamgestem dat daar een of ander gees daaragter moet wees. Dit was nog voor die rampspoedige brande in die Vrystaat…

Teen Dinsdag 20 Oktober 2020 het sy nog geen boodskap vir haar ‘Heidi se Hoekie’-program vanaf die Here ontvang nie. Woensdagoggend 21 Oktober 2020 ‘tref’ die boodskap en die gepaardgaande trane haar. Sy neem op. Dit word Donderdagoggend om 8vm vir die eerste keer uitgesaai. Vanoggend ontvang sy hierdie anonieme boodskap op WhatsApp…

...Hierdie is nie ‘n profetiese woord nie. Dit is maar iets wat in my hart groei. Ek lees vanoggend (20/10/20): Mattheüs 16:23 Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense. Die Nuwe Vertaling sê: Matteüs 16:23 Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Ons gebede is nog baie oor wat ons wil hê moet gebeur. Dit is duidelik dat die Here wil dat ons HOOR wat wil Hy hê moet gebeur, deur dit wat tans in die Vrystaat aan die gang is.

In 1900 het Lord Kitchener begin met sy Verbrande Aarde beleid. Die Britse weermag kon nie die boere in die Vrystaat oorwin nie. Die beleid was om plase af te brand, en vroue en kinders in konsentrasie-kampe te sit waar 25 000 of meer binne 2 jaar dood is. ‘n Kwart van die blanke bevolking van SA daardie tyd. Die gevolge: ‘n Bitterheid in die harte van die Vrystaters en Transvalers. Die bitterheid het eerstens die Bittereinders tot gevolg gehad. Die Bittereinders, aangehits deur die vroue in die konsentransie-kampe, het besluit hulle sal oorlog maak tot die bitter einde toe, tot die dood toe, selfs al kos dit hulle lewens. Hulle sou nie oorgee en vrede maak nie. Selfs toe die Vrede van Vereeniging verklaar is, het hulle baie teenswillig ook hulle wapens neergelê. Dit lyk vir my asof daar weer ‘n Verbrande Aarde beleid gevoer word deur mense, aangehits deur ‘n bose agenda wat dieselfde was as wat die Britte daardie tyd gehad het – die Boere moet vernietig word. Die Bitterheid het tweedens ‘n baie vêrrykende gevolg gehad in die Afrikaners as ‘n volk. Dit het uiteindelik uitgeloop op Apartheid en Afrikaner Nasionalisme, ‘n wêreldbeskouiing van oorlewing en self-beskikking, maak nie saak wat dit hulle sou kos nie, en maak nie saak wat dit aan ander mense sou doen nie. Is die Here nie met ons weer by dieselfde plek nie? Sal ons nie hierdie keer ons harte bewaar en nie toelaat dat die pyn van die Verbrande Aarde, van die Plaasmoorde, van die verskrikking van die geweld, haat en uittarting van die bose, weer bitterheid en oorlog in ons harte laat ontketen nie. Ek glo dat die Here presies weet hoekom Hy hierdie goed in ons land toelaat. Ons grootste nood is om by God te hoor wat Hy wil hê moet in ons land gebeur? Ons gebede is nog grootliks gerig op oorlewing en die behoud van ons lewenstyl van gemak en voorspoed. Die boere in ons land staan by ‘n kruispad. Dit is my innige gebed dat ons nie weer die pad van die verlede sal stap nie, maar hierdie keer toelaat dat die Here ons op ‘n ander pad neem. Die pad van die kruis.

Jesus het klaar die mag van die bose gebreek. Maar ons weet nie hoe om dit toe te pas nie. Dit is nie deur geestelike oorlogvoering soos ons dink nie. Maar dit is om die vyand van sy wapens te ontneem. Dit is wat gebeur het Vrydag in Senekal. Daardie aksie om water uit te deel en mense kos te gee (sien getuienis van Dare to Love), het meer gedoen om die bose se mag te breek as al die “evil eye” – my ma het altyd gesê ek kon iemand met my oog dood kyk – tussen die EFF en sommige boere. Oorwin die kwaad deur die goeie. Dan hoop jy kole op hulle koppe – die gesegde is om iemand rooi van skaamte te maak. Dit gee die Here geleentheid om in hulle harte te werk. Dit breek die mag van die vyand, neem sy wind uit die seile, laat hom afblaas, verneder hom.
Romans 12:20-21 “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Dit is nou tyd om ons gedagtes, emosies en reaksies na Jesus te neem en volgens Sy reëls oorwinning te kry oor die bose. En dit terwyl ons terselfdertyd bid vir ons boere gemeenskappe wat die teiken van die bose magte se uittarting geword het. Boere wat huil oor hulle mense wat vermoor is en diere wat doodgebrand het. Dit is in hierdie pyn waar die Kruis die draaipunt in SA kan bring.

Luister ook gerus na haar boodskap tydens Sondag se uitsendings van ‘Heidi se Hoekie’ Nr 8 – ‘My volk is gebreek’. Die uitsendings is om 1:30vm & 9:30vm Sondagoggend. Die potgooi sal deur die loop van volgende week op die Potgooiblad gelaai word.