Bolognaise
(4-6 porsies)
Bestandele:
1 groot ui, fyn gekap
1e (15ml) olie – canola / olyfolie
1 staaf seldery, in dun ringetjies gesny
300g (tot 500g – opsioneel) maalvleis
1 knoffelhuisie, fyn gedruk
2 medium wortels, geskil en fyn gerasper
½ tot 1 koppie (125ml – 250ml) lensies (opsioneel & nie-tradisioneel – om mee te ‘rek’)
seesout (onverwerk)
swartpeper, vars gemaal
1 lang reep suurlemoenskil
¼t (1,25ml) fyn neutmuskaat (nutmeg)
1 blik Italiaanse tamaties (klaar gekapte soort werk die maklikste)
(As jy verkies om vars Italiaanse Tamaties te gebruik, gaan jy jou bolognaise minstens 60 minute lank moet prut, indien nie langer nie.)
1e (15ml) ligbruinsuiker
Vars kruie van wat jy uit die tuin / plantpotte beskikbaar het:
Pietersielie / Tiemie / Roosmaryn / Origanum / Marjolein sal alles werk in watter kombinasie ookal. (Vars kruie is nie net lekker nie, maar ook baie gesond.)
Kookwater om alles mee te bedek.
Luukse, opsionele ekstras:
¼k (60ml) room en/of
½k (125ml) droë witwyn.
Vars gerasperde Parmesaankaas of Pecorinokaas op die tafel, vir oorstrooi.
Metode:
Braai uie in olie tot amper deurskynend. (‘n Ysterpot werk lekker, of enige ander dikboompot.)
Roer seldery by en braai nog ‘n rukkie.
Voeg maalvleis by en breek met lepel in fyn korreltjies.
Roer knoffel, sout, swartpeper en neutmuskaat by en roerbraai tot die vleis verbruin het. (Karamalisering, maak kos geuriger.)
Roer die fyn gerasperde wortels by en laat dit ‘verwelk’.
Roer nou die lensies (indien gebruik), geblikte tamaties, suurlemoenskil, suiker, kruie, speserye en kookwater by (ook jou witwyn, indien jy dit gebruik).
Bedek en laat vir minstens 30 minute prut tot sous ingekook het.
As jy room het, roer nou by en prut 1 of 2 minute tot sous verdik het.
Bedien met:
Pasta – spaghetti is tradisioneel / Polenta / Kapokaartappels / met Witsous en Lasagnevelle of geblansjeerde Koolblare in lagies as Lasagne – rasper ‘n bietjie Cheddarkaas bo-oor en bak.
Polenta
(Vir ‘n groot, honger gesin. Jy kan dit halveer, as jy wil.)
Bestandele:
2k (500ml) Geel Mieliemeel
8k (2l) water
2t (10ml) tot 1e (15ml) seesout
2e (30ml/30g) botter
Opsionele ekstra: Vars gerasperde Parmesaankaas of Pecorinokaas om deur te roer, net voor opdiening.
Metode:
Roerkook vir 20 minute tot dik en gaar.
Witsous
Bestandele:
6e (90ml / 90g) botter
6e (90ml) koekmeelblom
½t (2,5ml) seesout
‘n knippie fyn witpeper
‘n knippie varsgemaalde neutmuskaat (opsioneel)
2½k (625ml) volroommelk (ek gebruik dikwels gedeeltelik dikmelk)
Metode:
Smelt botter in ‘n souspotjie oor mediumhitte.
Roer koekmeelblom, sout en neutmuskaat by en meng goed. Wanneer dit ‘n effens neuterige geur kry, is die styselkorreltjies van die meel gebars. Moenie dat dit verbruin nie.
Roer nou die melk bietjie-vir-bietjie by. Roer deeglik na elke byvoeging. Moenie te veel melk op ‘n slag byroer nie, anders kan jy klonte kry.
Wanneer al die melk ingeroer is, kan jy die sous nog 2 minute laat prut.
Gebruik onmiddellik. Andersins, smeer met ‘n klontjie botter bo-op om vel te vermy.
Jy kan die sous netso gebruik, of jy kan ‘n koppie cheddarkaas byroer vir kaassous.
Dit is genoeg vir ‘n lekker groot lasagne. Vir die lasagne kan jy die witsous netso gebruik en net ‘n bietjie kaas bo-oor rasper, as jy ‘n bietjie wil bespaar. Dit is reeds heerlik soos dit is.
As jy die witsous bv. oor vis wil gebruik, kan jy ‘n paar sentimeter selderystaaf en ‘n stuk wortel en ‘n takkie pietersielie saam met die melk verhit en dan uithaal, voordat jy dit vir jou witsous gebruik. Vir ‘n sterker geur, kan jy dit verhit en met die groente en kruie saam laat afkoel, vir ‘n langer geurtydperk.
Nuutste Opmerkings