Karringmelk, Saad & Rosyntjie Beskuit

Bestandele:

1k + 1e + 1t (270ml) 250g botter
1¼k (310ml/250g) ligbruinsuiker
2t (10ml) sout
2k (500ml) dikmelk / karringmelk / amasi
2 groot eiers
8k + ¹⁄₃k (2080ml/1kg) koekmeelblom (verkieslik Eureka Mills se ongebleikte, klipgemaalde soort)
1t (5ml) bakpoeier
2e + 2t (40ml) kremetart
1e + 1t (20ml) koeksoda
½k (125ml) rosyne
½k (125ml) sonneblomsaad
¼k (60ml) lynsaad (ook genoem ‘vlassaad’)

Metode:

Voorverhit jou oond tot 190°C. Voer ‘n oondpan met bakpapier of smeer dit met botter (of ‘n ou botterpapiertjie). (Die standaardgrootte oondpan is 36cm x 26cm, aan die binnekant gemeet.)
Smelt die botter oor lae hitte in ‘n potjie (of gebruik jou mikrogolfoond).
Roer die suiker, sout en dikmelk daarby in. Roer totdat die suiker gesmelt is oor die lae hitte. Hou die mengsel louwarm.
Sif die meel, kremetart, koeksoda en bakpoeier saam.
Roer die rosyne, sonneblomsaad en lynsaad (vlassaad) daarby in.
Klits die eiers deeglik en roer dit by die bottermengsel in.
Skink die bottermengsel by die meelmengsel in. Meng en knie dit met jou hande tot glad en glansend.
Druk dit in jou oondpan vas.
Bak dit vir 30 – 35 minute tot gaar en goudkleurig.
Laat effens afkoel. Keer dan uit op ‘n draadrak en trek die papier af. Laat heeltemal afkoel en sny dan netjies in eweredige beskuite.
Pak op ‘n draadrak, wat bo-op jou oondpan staangemaak is (jy gaan twee nodig hê) en droog uit teen 100°C. (In my oond neem dit 2 tot 3 ure.)
Bêre dit in ‘n lugdigte houer, as jy nie wil hê dat dit klam moet word nie – bv. as jy op die kus bly.

Variasies:
Vir gewone Karringmelkbeskuit – los eenvoudig die sade en rosyntjies uit.
Vir Sjokoladebeskuit – vervang die sade en rosyntjies met ½k tot 1k (hangende af van smaak) sjokolade knopies (oftewel ‘choc chips’).

En ja, ek het bedoel botter – nie margarien nie. Botter proe nie alleen aansienlik lekkerder nie, dit is die oorspronklike – die een deur God gemaak en akkordeer baie beter met jou liggaam as margarien. Daar is bevind dat margarien jou, ten spyte van dieselfde hoeveelheid kilojoules, 3 keer vinniger laat gewig aansit. Olie word deur ‘n onnatuurlike proses gesit om dit te laat stol. Party soorte margarien (veral bakmargarien) kan selfs as ‘n ‘trans-fat’ geklassifiseer word. Ek gebruik dus baie eerder God se oorspronklike skepping – botter.

Sjokoladeplaatkoek met Variasies
(Maak een groot oondpan vol.)

Bestandele:

3k (750ml/360g) koekmeelblom (verkieslik Eureka Mills)
2k (500ml/400g) ligbruinsuiker
½t (2,5ml) sout
½k (125ml/40g) kakaopoeier
1e (15ml) bakpoeier
½e (7,5ml) koeksoda
3 groot eiers
¾k (180ml) canola-olie
4e + 1t (50ml) witasyn
2t (10ml) vanielje-ekstrak
2k (500ml/500g) kookwater

Metode:

Voorverhit jou oond tot 180°C. (Dis onnodig om die oondpan te smeer, indien jy direk daaruit gaan skep.)
Sif die koekmeelblom, suiker, sout, kakaopoeier, bakpoeier en koeksoda saam. (Jy kan dit direk in die oondpan sif.)
Klits die eiers, olie, asyn en vanielje-ekstrak saam in ‘n groot beker. Klits die kookwater daarby in.
Roer die klam mengsel met ‘n draadklopper by die meelmengsel in (direk in die oondpan, indien jy verkies), tot goed gemeng.
Bak vir 20 tot 25 minute tot gaar.

Fop-Ganache bolaag
(Maak gedurende die laaste paar minute voordat die koek uit die oond kom.)

Bestandele:

1k (250ml/200g) ligbruinsuiker
3e (45ml/15g) kakaopoeier
½t (2,5ml/knippie) sout
3e + 1t (50ml/25g) mielieblom
¼k (60ml/50g) botter
1¼k (310ml/310g) kookwater

 

Metode:

Roer die suiker, kakaopoeier, sout en mielieblom met ‘n draadklopper saam in ‘n souspotjie tot goed gemeng en al die kakaoklonte gebreek is.
Voeg die botter en kookwater by en roer, totdat die botter gesmelt is.
Verhit die mengsel teen medium hitte, terwyl deurentyd roer. Sorg dat die suiker smelt, voordat dit begin prut.
Wanneer die sous begin kook, roer vir nog ‘n minuut of twee en haal dan van die hitte af.
Skink onmiddellik op die koek uit en versprei met die agterkant van ‘n lepel oor die koek tot bedek. Laat afkoel.
Sny in blokke en bedien.

Egte Ganache bolaag:
(Laat die plaatkoek eers afkoel tot louwarm.)

Bestandele:

240g (3 plakke) ‘donker’sjokolade (die goedkoop soort – 30% kakao, is goed genoeg)
1k (250ml) dik room

Metode:

Kap die sjokolade fyn en plaas in ‘n hittebestande glasbak.
Verhit die room tot net onder kookpunt.
Skink oor die gekapte sjokolade in die bak. Wag ongeveer 3 minute. Roer nou met ‘n draadklopper tot glad.
Skink uit oor die plaatkoek. As jy dit eweredig oor die koek wil versprei, verwarm ‘n lepel in kookwater, droog af en versprei met die agterkant.

Variasies:

As jy eerder die koek souserig wil hê, i.p.v. met ‘n tradisionele ganache bolaag, kan jy die hoeveelheid room verdubbel en dit oor die warm koek skink, wanneer dit uit die oond kom. Gebruik dan 3 plakke sjokolade en 500ml room.
Nog ‘n variasie is om gekapte neute bo-oor die ‘sous’laag te strooi.
Maak ‘n ligte stroop van 1 deel suiker met 2 dele water (as jy ‘n erge soettand het, maak dit 1:1), voeg ‘n bietjie Amandellikeur (soos Amaretto) by, skink oor die warm koek, soos dit uit die oond kom. Versier met Ganache of FopGanache en strooi gekapte amandels oor.
Vervang die water in die ligte stroop met Ingedampte Melk of Room.