Bees- of Hoenderaftreksel
Bestandele:
2kg bees sopbene
of
1,5kg hoendervlerkies / ruggies / nekkies of ‘n kombinasie
2 mediumgrootte uie
2 mediumgrootte wortels
2 stawe seldery
2 lourierblare
10 pietersielietakkies (sonder blare, as wil)
4 knoffelhuisies, ongeskil (opsioneel as hoenderaftreksel maak)
½t swartpeperkorrels
½t gedroogde tiemie / 3 takkies tiemie
16k (4 liter) koue water (ongeveer)
Metode:
Voorverhit jou oond na 235ºC.
Rooster die sopbene of hoender ongeveer 30 minute lank tot dit verbruin. Die hoender mag moontlik net 15 minute neem om te begin verbruin. Dreineer die vet.
Gebruik ‘n gaatjieslepel om die bene & groente in ‘n groot pot te sit. Voeg die kruie en peperkorrels by. Bedek alles net-net met van die koue water.
Bring tot kookpunt, maar hou dit dop. Dit moet net begin prut. Sodra dit begin prut, voeg nog ‘n bietjie van die koue water by. Roer een keer.
Bring weer tot kookpunt en verlaag hitte, sodat dit net-net prut. Skep skuim af. Bedek pot gedeeltelik en laat 4 tot 6 ure prut (2 tot 3 ure vir hoenderaftreksel). Skep kort-kort skuim en vet af. (Met die beesaftreksel kan jy gedurende die eerste 2 ure kookwater byvoeg, indien nodig, om die bestandele met water bedek te hou.)
Voer ‘n vergiettes met ‘n paar lae klam kaasdoek. Gooi die aftreksel daardeur om van alle been-, groente- en kruiedeeltjies ontslae te raak.
Gebruik vir sop of bredie.
As jy dit wil bêre – laat dit afkoel tot louwarm. Sit dit dan in die yskas vir ongeveer 8 ure. Die vet sal styg tot die oppervlak en hard word. Die aftreksel sal ‘n jel vorm. As jy dit binne 3 tot 5 dae gaan gebruik, kan jy die vet daarop los. As jy die aftreksel wil vries – gooi die vet weg en vries slegs die aftreksel. In die vrieskas sal dit ongeveer ‘n maand hou.
- Egte aftreksel is nie net heerlik nie – dit is ook uiters gesond. Dit kan vir siek mense gegee word, om hul gestel op te bou. Dit help ook vir verouderende vel, a.g.v. die kolageen daarin.
- Klaar gemaakte aftreksel is boonop handig. As jy haastig by die huis aankom, gedurende die week, kan jy eenvoudig klaar gesnyde groente daarin gaarmaak en, as jy wil, ‘n paar stukkies gaar vleis of hoender daarby voeg en jy het ‘n heerlike, gesonde sop binne ‘n halfuur tot ‘n driekwart uur.
- As jy enige sop of bredie met dieselfde bestandele begin, is dit reeds lekker, al het jy dit nie met koue water en ‘n ekstraksieproses begin nie.
Nuutste Opmerkings