Bees Bourguignon met romerige Kapokaartappels
Bestandele:
Marinade-bestandele:
1 Ui, grof gekap
2 Wortels, geskil & in ringe gesny
2 Selderystokke, grof gekap
3 Lourierblare
10 Swartpeperkorrels
1 Knoffelbol, horisontaal in die helfte deurgesny
1 x 750ml bottel Pinot Noir (of enige droë rooi bokswyn)
Die res:
750g blokkies beesvleis
2e (30ml) olyfolie
2e (30ml/30g) botter
seesout (ongejodeerd) na smaak
1½k (375ml) baba-uitjies
2 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
1½e (22,5ml) Dijon mosterd
¹/₃k (80ml) gekapte, vars pietersielie
Metode:
Marineer vleis oornag in ‘n marinadebak met al die marinadebestandele. (As jy nie ‘n marinadebak het nie – moenie ‘n vlekvryestaalbak gebruik nie. Gebruik eerder ‘n plastiek- of erdebak. Die suurinhoud van die wyn, sal met die staal reageer en jou vleis aaklig laat smaak.)
Die volgende dag: Behou al die marinadebestandele en haal die vleis uit.
Verhit ‘n dikboompot tot warm. Braai die vleisblokkies in die olyfolie tot verbruin. Seël ook die vleis met jou seesout. Skep die vleis uit en hou eenkant.
Verlaag die hitte. Braai die baba-uitjies in dieselfde pot tot glansend. Voeg ekstra olyfolie by, indien nodig.
Roer nou die ekstra knoffel(huisies) en botter by en braai nog ‘n minuut.
Skep die marinadegroente met ‘n gaatjieslepel uit die wyn uit. Roerbraai dit saam met die uitjies tot liggies verbruin.
Roer die Dijon mosterd by en braai 1 minuut.
Gooi die vleis terug in die pot, asook die wyn en enige oorblywende marinadedeeltjies.
Bedek die pot en prut vir minstens 2 ure tot sag. (As jy wil, kan jy die vleis oornag marineer, die volgende oggend alles braai, soos beskryf, en dan alles in ‘n prutpot – ‘slow cooker’ – plaas om die res van die dag stadig gaar te stowe. Geniet dan die aand.)
Bedien met romerige kapokaartappel (‘mash’) en vars, gekapte pietersielie.
Vir die Kapokaartappels
Bestandele:
4 medium tot groot blus-aartappels (Kyk op pakkie of geskik vir ‘mash’. Wasagtige – ‘waxy’ – aartappels is goed vir aartappelskyfies, maar glad nie geskik vir kapokaartappels nie.)
Kookwater om aartappels net-net mee te bedek
½k (125ml) volroommelk/room
2e (30ml/30g) botter
Seesout (ongejodeer) na smaak
Metode:
Skil aartappels en kook in soutwater tot sag. (Gebruik min genoeg water dat die water wegkook, eerder as dat jy dit ((en die vitamine C)) moet afgooi.)
Verhit die melk/room en klits dit met ‘n elektriese handklitser saam met die botter, sout & peper (indien verkies) in die aartappels in. So maak jy alles fyn en meng dit tegelyk.
Skep die warm Bees Bourguignon oor die warm Kapokaartappels, garneer met pietersielie en geniet.
Glühwein
Bestandele:
1 sakkie Earl Grey teeblare
1k (250ml) kookwater
½k (125ml) ligbruinsuiker
2 lang repe suurlemoenskil/nartjieskil/lemoenskil
2 stokkies pypkaneel
6 heel naeltjies
1 bottel (750ml) rooiwyn
1k (250ml) lemoensap / ontbytpons
1 steranys (opsioneel)
3 kardemomsade (opsioneel)
5 swartpeperkorrels (opsioneel)
Metode:
Gooi kookwater oor teesakkie in potjie en laat 5 minute trek.
Haal teesakkie uit. Voeg ander bestandele by. Verhit en roer tot suiker gesmelt is.
Sodra dit kookpunt bereik, haal van hitte af. Laat trek vir 5 tot 10 minute.
Syg deur ‘n siffie en drink terwyl nog warm.
Nuutste Opmerkings