Appel- en Eierslaai
(Lewer 4-6 porsies)

Bestandele:

Vir slaai:
8 eiers
4 klein Granny Smith of Fiji appels
‘n paar druppels vars suurlemoensap
2 stawe seldery, in fyn ringetjies gesny
2 sprietuie, in fyn ringetjies gesny
‘n handvol geroosterde pekanneute, gekap (opsioneel)
of
2e geroosterde sonneblomsade (opsioneel)

Vir die sous:
¹⁄₃k (80ml) mayonaise
¼k (60ml) ongegeurde jogurt
1t (5ml) Dijon mosterd (opsioneel)
seesout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Vir opdiening:
‘n pak gemengde slaaiblare
en / of
4 snye growwe rogbrood of heelgraanbrood

Metode:

Plaas heel eiers in ‘n potjie. Bedek met water en 1e wit asyn. Bring tot kookpunt en kook vir 6 minute.
Gooi kookwater af en bedek met koue water. Laat afkoel.
Rooster die pekanneute of sonneblomsade (indien gebruik) in ‘n droë pan, tot geurig. Laat afkoel.
Berei die res van die slaaibestandele.
Ontklok die appels net so. Moenie skil nie. Sny in dun wiggies, of in blokkies, indien verkies. Roer ‘n paar druppels suurlemoensap daardeur.
Dop die eiers af en sny in wiggies. Roer versigtig deur die slaaibestandele.
Meng die slaaisousbestandele en roer versigtig deur.
Bedien op slaaiblare en / of op die brood.

Hoender- & Mangoslaai
(Lewer 4 ligte ete porsies)

Bestandele:

Vir die hoender:
4 hoenderborsies, in happiegrootte repies gesny
1e tot 2e (15ml tot 30ml/15g tot 30g) botter
1e tot 2e (15ml tot 30ml) olyfolie
1 knoffelhuisie, fyngekap
½ suurlemoen se sap
seesout & varsgemaalde swartpeper na smaak

Vir die slaai:
1 pak gemengde slaaiblare, in kleiner stukkies geskeur
½ groenrissie, in dun repies gesny
¼ ui, in dun repies gesny
‘n handvol vars basilieblare
2 groot mango’s, geskil, ontpit en in happiegrootte stukke gesny

Vir die slaaisous:
4e (¼k/60ml) olyfolie (verkieslik ‘extra-virgin’)
2e tot 3e (30ml tot 45ml) balsamiese asyn
seesout & varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

Vir die slaai:
Meng die slaaibestandele saam (in aparte bakkies, indien verkies).

Vir die hoender:
Verhit ‘n dikboompan tot warm. Gooi beide die botter en olyfolie in die pan. (Begin met die helfte van die botter en olyfoliemengsel en vermeerder indien nodig, sodat die hoenderrepies nie vassit nie.) Versprei die hoenderrepies oor die bodem van die pan en MOET VIR EERS NIE ROER NIE.
Geur mildelik met seesout en peper. Wanneer die hoender begin verkleur vanaf amper deursigtig na wit en dit effens begin karamaliseer (effens bruin raak), vat ‘n eierspaan en roer dit om. (Hou heeltyd die hitte hoog. So seël die hoender en bly dit sappig.)
Roer nou die knoffel by. Roer vir ‘n minuut tot die hoender amper gaar is. Drup die suurlemoensap oor, roer deur en strooi oor (of verdeel tussen) die klaar voorbereide slaai.
Roer die slaaisousbestandele deur en bedien dadelik.

Pynappel & Klapper Gestolde Vla-Mousse met Grenadellasous
(Lewer 8-10 porsies)

Bestandele:

Vir die vlamousse:
900g (groot blik) ingelegde pynappelstukke, gedreineer, stroop gereserveer
1 blik kondensmelk
1 blik klappermelk
2e (30ml) gelatien
4e (¼k/60ml) gereserveerde pynappelstroop
3 eiers, geskei
3e (45ml) strooisuiker
knippie kremetart

Vir die grenadellasous:
10-15 grenadella’s se pulp
4e (¼k/60ml) strooisuiker

Metode:

Vir die pynappel en klappermelkmousse:
Verpulp die pynappelstukke (sonder stroop) met die kondensmelk in ‘n versapper (‘blender’-beker).
Week die gelatien in die 60ml gereserveerde pynappelstroop.
Klits die eiergele en strooisuiker in ‘n dubbelkoker (of ‘n ‘pyrex’-bak oor ‘n pot met liggies kokende water) tot lig, donsig en gaar.
Klits die klappermelk en eiergeelmengsel by die pynappelmengsel.
Verhelder die gelatienmengsel oor kookwater of in ‘n mikrogolfoond en klits by die pynappelmengsel.
Klits die eierwitte met die strooisuiker en kremetart tot styf en vou dit by die pynappelmengsel in.
Verdeel die pynappelmengsel tussen 8 tot 10 vormpies, indien verkies, of keer dit uit in ‘n groot vorm en laat stol in yskas – verkieslik minstens 4 tot 6 ure voor opdiening, miskien selfs oornag.

Vir die grenadellasous:
Sny die grenadella’s in die helfte en krap die pulp met ‘n teelepel uit in ‘n klein souspotjie.
Roer die strooisuiker daarby in.
Roer vir ‘n paar minute oor medium hitte, totdat die grenadellasous ‘n glansende voorkoms het.
Laat afkoel.

Vir opdiening:
Ontvorm die groot vorm op ‘n opdienbord, of ontvorm die klein moussevormpies op individuele borde en verdeel die grenadellasous daaroor. Bedien so gou moontlik na ontvorming (in warm weer).

Opmerking:
Die poeding is redelik soet. As jy nie so ‘n sterk soettand het nie en die soet ‘n bietjie wil breek – gooi die onversoete grenadellapulp net so oor die gestolde mousse voor opdiening. (As jy wil, kan jy dit ook eers vir ‘n paar minute inkook en laat afkoel.)