Welkom in 2023

Baie welkom in 2023! Ons hoop dat jy ‘n heerlike geseënde jaar sal beleef. Die wêreld is ‘n mal plek, maar as jou lewe geanker is in Jesus Christus, dan is jy in veilige hande.

Ons hoop ook dat Radio Nuwe Lied deel van lewe sal bly of word. Hierdie platform is hier om die Afrikaanse Christelike gemeenskap te dien. As jy al bekend is met Radio Nuwe Lied, dan sal jy sien dinge lyk sommer baie anders. Dis waarom hierdie inligting nodig is.

 

Geskiedenis in kort

Eers ‘n bietjie geskiedenis: ons het begin in 2020 as ‘n aanlynstasie wat daaglikse geallokeerde programme uitsaai soos enige radio, net aanlyn. Dit was fantasties en ons het spoedig Afrikaanse mense uit 24 lande gehad wat ons ontdek het. Oorspronklik het ons gedroom om ook later op FM uit te saai. Ons het die plan redelik vinnig laat vaar toe ons gesien het hoe die reguleerders beperk en bepaal wat ‘n stasie maar mag kwytraak.

Die volgende stap was om ‘n potgooiblad te begin. Hierop kon mense na die vorige programme gaan luister wat hulle gemis het gedurende die week. Ons oorspronklike plan was om uiteindelik ‘n potgooigedrewe stasie te wees. Dit is die manier waarop die meeste mense hulle inligting aanlyn gebruik. Hoekom sal jy wag om jou program Donderdagaand om 19:00 te luister as jy die potgooi kan luister net wanneer dit jou pas?

Nuut!

Die natuurlike evolusie hiervan het nou so ver gevorder dat 95% van die mense nie meer inskakel op die ‘radiogedeelte’ nie, maar alles op die potgooibladsy gaan luister. Dus het ons die uitsaai gedeelte gestop vanaf die begin van 2023. Jy kan nou na hartelus jou gunsteling program gaan luister op die potgooibladsy. Jy sal nogsteeds die opgedateerde inligting van gereelde programbydraers op die tuisblad kry. Alles verwys na die potgooiblad waar jy al die beskikbare programme kan kry. Die nuutste episode sal laaste op die lys wees, aangesien alles kronologies is op hierdie stadium. Ons sal dinge met tyd saam verbeter dat dit makliker werk.

Die enigste nadeel is dat daar nie meer musiek sal uitsaai nie. Dit behoort nie ‘n probleem te wees nie. Baie min mense het ingeskakel vir musiek. Weereens, mense verbruik hulle musiek deesdae anders – op Spotify, Deezer, Youtube, ens.

Welkom dus by die nuwe bladjie saam met ons. Ons hoop julle vind baat by die programme. As jy doen, stuur asseblief die skakel na jou vriende en familie van regoor die wêreld. Ons sal die nuwe verwikkelinge met julle deel soos wat dit gebeur.

Mag ons nog lank saam Klets, Kuier, Luister en Leer in Afrikaans!